Kinderhuis se toestelle vernietig in kragstuwings
Kabeldiefstal, kragstuwings en beskadigde toestelle laat die instelling met ’n nuwe noodsituasie.

Jakaranda Kinderhuis in East Lynne, Pretoria, het ná ’n week sonder betroubare elektrisiteit met omvangryke skade aan elektriese toestelle en ’n dringende behoefte aan kos en ander noodsaaklike voorraad te kampe.
Die krag is op 7 Oktober herstel nadat die kinderhuis se meer as 15 huise en ander geboue op die terrein vir die grootste deel van die afgelope week sonder elektrisiteit was.
Volgens Charlene Grobler, uitvoerende hoof van Jakaranda Kinderhuis en Louis Botha Kinderhuis, is die kragonderbreking, veroorsaak deur die brand en ontploffing by Waltloo en die groter invloed op die Njala-kragstasie, asook deur kabeldiefstal in die omgewing tydens die week van die kragonderbreking verder bemoeilik.

Grobler sê die kinderhuis het sedert die skole verlede kwartaal gesluit het slegs een middag elektrisiteit gehad voordat die toevoer weer onderbreek is.
“Die kragonderbreking het ’n baie groot impak op ons huise gehad,” sê Grobler. “Ons huisouers doen regtig alles in hulle vermoë om seker te maak dat die kinders versorg word, maar sonder elektrisiteit raak selfs die eenvoudigste daaglikse take baie moeilik.”
Die beperkte herstel van die krag by ’n paar geleenthede het boonop ’n tweede probleem veroorsaak. Toe die elektrisiteit wel terugkom, was daar kragstuwings wat verskeie toestelle beskadig het.
Yskaste, vrieskaste, TV’s en elektriese ketels in die huise is onder meer geraak, terwyl toestelle in ander geboue, insluitend die kantoorgebou, ook beskadig is.
“Ons het toestelle wat eenvoudig nie meer werk nie en wat vervang sal moet word,” sê Grobler. “Die probleem is nie net dat ons vir ’n tydperk sonder krag was nie. Die krag wat teruggekom het, het ook skade veroorsaak.”
Die kinderhuis se huisouers moes intussen kos wat nie meer veilig gehou kon word nie, weggooi. Dit het die behoefte aan nuwe voedselvoorrade verder verhoog.
’n Kragopwekker is intussen beskikbaar gestel deur ’n borg om die kinderhuis deur die krisis te help, maar die gebruik daarvan is beperk omdat diesel benodig word.
Volgens Grobler kan die kragopwekker tans slegs sowat twee uur in die oggend en twee uur in die aand aangeskakel word wanneer daar kragonderbrekings is.
Die kinderhuis het daarom dringend hulp nodig met onder meer kerse, vuurmaakhout, droë ys, gasstowe, klein aanstekers, vleis en ander kos sowel as die vervanging van elektriese toestelle soos ketels, TV’s, mikrogolwe, yskaste en vrieskaste.
Grobler sê enige bydrae kan ’n verskil maak terwyl die instelling probeer om die normale roetine in die huise te herstel. “Ek is so dankbaar vir almal wat ook van aanlyn afleweringsdienste gebruik gemaak het om vir ons met die motorfietsies kos te stuur.
“Ons is ongelooflik dankbaar vir die ondersteuning wat ons reeds ontvang het,” sê sy. “Ons het mense nodig wat saam met ons kan help om seker te maak dat daar kos op die tafel is en dat ons huise kan aanhou funksioneer.”
Sy sê die fokus bly egter op die kinders en die huisouers wat hulle versorg. “Ons grootste prioriteit is om die kinders veilig, gevoed en versorg te hou. Ons sal aanhou om alles moontlik te doen om deur hierdie situasie te kom.”
Aflwerings en aanlyn aflewerings kan na Jakaranda Kinderhuis, 1 Talitha Kumi Straat, East Lynne, Pretoria geneem word. Vir donasies besoek hul webwerf by https://jacarandachildren.co.za of skakel 012 800 4700.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel