Sport hoogtepunte, 16-17 Augustus 2014
Vir al die sporthoogtepunte, lees verder.

Terwyl rugbyliefhebbers hul vere regskud vir die begin van die Viernasies kampioenskappe waarin die Springbokke met die All Blacks, Wallabies en die Poemas van Argentinië sal meeding om die trofee, kruip die krieketseisoen ook stadig nader. Dan is daar twee groot byeenkomste waar Suid-Afrika se beste atlete kans kry om op internasionale- en kontinentale vlak te kompeteer.
Rugby
Skole: Slegs twee skole uit Pretoria het die finale gehaal in twee verskillende afdelings van die gesogte Beeldtrofee. Garsfontein het verlede week vir Centurion uitgeskakel en speel hierdie komende naweek teen Dr. EG Jansen van Boksburg op laasgenoemde se velde in die halfeindrondte van dié toernooi in die afdeling vir Makro Skole.
In die afdeling vir Groot Skole het die Hoërskool Tuine vriend en vyand verras deur die hoogaangeskrewe Helpmekaar te klop om ook na die halfeindrondte deur te dring. Hulle speel eerskomende naweek op hul tuisveld teen Transvalia uit die Vaaldriehoek.
Curriebeker: Die tweede rondte wedstryde in die Curriebekerreeks vind ook hierdie naweek plaas. Na hul swak begin teen die Leeus raak sake waarskynlik nóg moeiliker vir die Blou Bulle, wanneer hulle die WP Saterdagaand in Kaapstad pak. Dié wedstryd vind om 19:10 plaas ná afhandeling van die toets in Pretoria. Vrydagaand het die Haaie reeds teen die Pumas uitgedraf in Durban, terwyl daar Saterdag vroegmiddag nog twee wedstryde sal plaasvind. Die Leeus speel om 15:00 teen die OP Kings en om 17:00 kom die Cheetahs en Griekwas in Bloemfontein aan die beurt.
Toetsrugby: Die groot rugby van die naweek gebeur egter in Pretoria met die toets tussen die Springbokke en Argentinië wat op Loftus Versfeld gespeel word. Dié toets begin om 17:00 en volgens die Blou Bulle Rugby-unie sal daar nog kaartjies by die hekke te koop wees vir laatslapers.
Padwedlope
Die Phobians Atletiekklub bied die naweek die Marcel van’t Slot gedenkwedloop in Lynnwood aan. Atlete het die keuse tussen ’n 15km wedloop en ’n 5km pretdraf. Die wegspringtyd is om 06:45 en dit sal plaasvind in Roperstraat, Lynnwood.
Krieket
Suid-Afrika se nasionale krieketspan, die Proteas, is nog op hul kort toer in Zimbabwe en hierdie naweek, op Sondag 17 Augustus, word die eerste eendag toets in Bulawayo gespeel.
Die Suid-Afrikaanse o.19 span is nog in Engeland. Hulle speel ook Sondag in hul tweede eendagwedstryd teen die Engelse o.19 span.
Atletiek
Die Afrika Atletiekkampioenskappe het die afgelope week klaargemaak, maar verskeie van Suid-Afrika se jong atlete sal vanaf hierdie naweek deelneem by die Jeug Olimpiese Spele in Nanjing, China. Die Suid-Afrikaanse span bestaan uit 63 sportmanne en -vroue.
