CrimeLocal newsNews

Nog ‘n bekende Moot skool beroof

Nog 'n skool in die Moot is die afgelope twee weke oor naweke beroof.

Nog ‘n bekende laerskool in Queenswood is van rekenaars, elektroniese toerusting en geld beroof.

Die jongste inbraak — by Laerskool Queenswood — was in die vroeë oggendure van Sondag. Vyf rekenaars is uit die kantoor gesteel. Die kluis is met ‘n hoekslyper oopgesny en 40 rekenaar-tablette tesame met sowat R40 000 in kontant is weggedra.

Die tablette is onlangs deur die departement van onderwys aan verskeie skole geskenk.

Sowat twee gelede, is al Laerskool Nellie Swart se tablette gesteel.

Nes met die vorige roof, het die boosdoeners die dak oopgebreek, die alarmstelsel ontkoppel en deur die plafon toegang tot die kantoor gekry.

Rico Ludick, die skoolhoof van Laerskool Queenswood, is moedeloos oor die skool se verlies.

“Ons is nog besig om vas te stel wat die randwaarde van die skade is, maar ons het ‘n groot hoeveelheid kontant verloor – al die verkope van verlede week Vrydag se landloop waar amper al Gauteng se skole bymekaar gekom het. Dit is sowat R 40 000 net in kontant wat weg is.”

Ludick sê die diewe het duidelik duvets van die siekekamer voor die vensters geplaas sodat niemand die lig van die hoekslyper van buite kon sien nie.

“Dit is groot finansiële skade vir die skool, maar ek is net bly dat dit oor die naweek gebeur het en dat nie een van my kinders by die skool seergekry het nie.”

Kaptein Coba Brits, woordvoerder van Villieria-polisiestasie, sê die roof word ondersoek.

Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button