CrimeLocal newsNews

Vierjarige langs pad afgelaai ná kaping

’n Vierjarige kleuter is deur ’n kaper langs die pad afgelaai nadat hy en twee ander mans haar en haar tannie Sondagmiddag in Danville gekaap het.

Kapers het Sondagmiddag met ‘n vierjarige dogter weggejaag in Danville, maar haar later langs die pad afgelaai.

Annamarie van Greunen en haar tannie Annatjie Pretorius is deur drie gewapende mans oorrompel en van haar motor beroof. Hulle het met die kleuter in die voertuig gevlug.

Die kleuter en die voertuig is binne minute opgespoor danksy die vinnige optrede van Area Patrol.

“Ek was op pad huistoe, toe ek drie mans ’n vrou sien oorrompel en haar voertuig kaap. Ek het hulle dadelik agterna gesit, maar op daai stadium het ek nie eens geweet daar was ’n kind op die agterste sitplek nie,” het Rufus Engelbrecht, lid van Area Patrol, gesê.

Pretorius was op pad om haar seun in Uysstraat op te laai toe sy en die kleuter op die hoek van Knight- en Cloetestrate in Danville gekaap is.

Engelbrecht vertel: “Die mans was op pad Lotus toe. Ons het hulle agterna gesit en probeer vaskeer. Twee kapers het intussen uit die voertuig gespring en die bestuurder het die voertuig later in ’n veld verlaat. Gelukkig het die kapers die kind langs die pad afgelaai.”

Die kaper het ’n wapen op Engelbrecht tydens die jaagtog gerig om hom af te skrik, maar Engelbrecht het hom steeds aanhou volg. “Ons het uiteindelik die voertuig in ’n veld in Westford gevind. Die kapers het ongelukkig weggekom,” het hy gesê.

Annemarie se pa Hennie het gesê die verligting om sy kind, ongedeerd, in sy arms vas te hou was oorweldigend.

“Al wat my kind gesê het was ‘ek het pappa gemis’. Dit was vreeslik erg en ek wil nooit weer só ’n dag beleef nie. Sy is gelukkig nie beseer nie. Gelukkig het die lede van Area Patrol vinnig gereageer,” het ’n verligte Van Greunen gesê.

Kaptein Lerato Ngomane, polisiewoordvoerder, het die kaping bevestig.

“Die mans het die vrou se voertuig met klippe gegooi. Toe sy stilhou om uit te vind wat aangaan, het hulle ‘n vuurwapen op haar gerig en die voertuig gekaap. Sy het hulle gesmeek om die kind uit te haal, maar hulle het nie gehoor aan haar pleidooie gegee nie,” het Ngomane gesê.

Sy het gesê die kapers is nog op vrye voet en die saak word ondersoek.

Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button