Annamarie van Greunen en haar tannie Annatjie Pretorius is nou weer veilig tuis na die traumatiese ervaring Sondagoggend toe hulle in Danville gekaap is.
Annamarie en Pretorius is deur ’n gewapende man op die hoek van Knight- en Cloetestrate in Danville gekaap, toe hulle op pad was om Pretorius se seun in Uysstraat op te laai.
Pretorius vertel: “Die man het my voertuig met ’n klip gegooi. Ek het gestop. Hy het nader aan die voertuig gestap en ¹n vuurwapen op my gerig en my uit die voertuig gegooi. Hy het gesukkel om die deur vir sy vriend oop te maak,” sê Pretorius.
Sy het die kaper gevra om Annamarie kans te gee om uit te klim, maar hulle het met haar weggery.
“Die man het vinnig gery en ek het gesukkel om my balans te behou. Ek het hom gevra of ek huistoe kan gaan, maar hy het nee gesê,” het Annamarie vertel.
Volgens Annamarie se pa, Hendrik van Greunen, het die kaper teen ’n groot rots vasgery en die voertuig saam met haar dogter op pad Westford toe, verlaat.
“Annamarie het uit die voertuig geklim, in die straat geloop en om hulp geskree. Toe ek die boodskap oor die kaping kry het ek groot geskrik. Ek het nie tyd gemors nie en die trok gevat om vir haar gaan soek. Ek bly reeds 18 jaar in Danville, maar ek ken nie eens die strate se name waar hulle gekaap is nie,” het Hendrik gesê.
Area Patrol was vining van die merk af.
“Ek was op pad huistoe, toe ek drie manne ’n vrou sien oorrompel en haar voertuig kaap. Ek het hulle dadelik agterna gesit, maar op daardie stadium het ek nie geweet daar was ’n kind op die agterste sitplek nie,” het Rufus Engelbrecht, lid van Area Patrol, gesê.
Engelbrecht vertel: “Die manne was op pad Lotus toe. Ons het hulle agterna gesit en probeer vaskeer. Die een kaper het intussen uit die voertuig gespring en die bestuurder het die voertuig later verlaat.”
Tydens die jaagtog het die kaper ’n vuurwapen op Engelbrecht gerig, maar Engelbrecht het hom steeds aanhou volg.
“Ons het uiteindelik die voertuig in in Westford gevind. Die kapers het ongelukkig weggekom,” het hy gesê.
Hendrik het aan Rekord gesê die verligting om sy kind, ongedeerd, in sy arms vas te hou was oorweldigend.
“Al wat my kind gesê het was ‘ek het pappa gemis’. Ek wil nooit weer só ’n dag beleef nie. Sy is gelukkig nie beseer nie. Die lede van Area Patrol het vinnig gereageer,” het ’n verligte Hendrik gesê.
Kaptein Lerato Ngomane, polisiewoordvoerder, het die kaping bevestig. “Die mans het die vrou se voertuig met klippe bestook. Toe sy stilhou, het hulle ‘n vuurwapen op haar gerig en die voertuig gekaap. Sy het hulle gesmeek om die kind te laat uitklim, maar hulle het nie geluister nie,” het Ngomane gesê. Sy het gesê die kapers is nog op vrye voet en die saak word ondersoek.
Annamarie se ma, Susan het gesê dat na die kaping is die kleuter bang on enigiets alleen te doen.
“Sy wil nie alleen wees nie, sy is bang.”
Annamarie se ouers sê hulle wil vir ander motoriste waarsku om hul voertuie se deure te sluit.
Vir meer nuus, volg Rekord op Twitter of ‘like’ ons op Facebook.
