‘n Dwelmlaboratorium is in Mooiplaats waar die dwelms CAT en Tik vermoedelik vervaardig word gevind.
Boschkop-polisiestasie het inligting ontvang van ‘n informant oor ‘n verdagte voertuig. Die polisie het die registrasienommer van die voertuig getoets en vasgestel dat die eienaar wel ‘n gesoekte persoon is vir die vervaardiging van onwettige stowwe.
‘n Operasie is deur die Boschkop-polisie gereël saam met die georganiseerde misdaadeenheid en die lugvleuel om die saak te ondersoek. Die polisie het vir ‘n ruk waarneming op die huis op ‘n kleinhoewe in Mooiplaats gedoen. Toe die verdagte op die toneel verskyn, het die Boschkop-polisie en die georganiseerde misdaadeenheid toegesak op die verdagte en die perseel begin fynkam.
Die verdagte is onmiddellik gearresteer. In die huis het hulle chemikalië, sout, koeksoda en ander bestanddele gevind wat vermoedelik gebruik word vir die vervaardiging van die dwelmmiddels CAT en tik.
Die waarde van die dwelms beloop ongeveer R1.2 miljoen. Die saak word nog ondersoek maar die verdagte sal reeds vandag, 20 Augustus in die hof verskyn.
Daar is ook ‘n groot hok met verwaarlose hoenders op die perseel gevind. Die reuk van die hoendermis is vermoedelik gebruik om die reuk van die chemikalië te verdoesel.
Lees ook: R500 000 worth of drugs confiscated
Vir meer nuus en opvolge, volg Rekord op Twitter of ‘like’ ons op Facebook.











