
Die 82-jarige man van Kilnerpark wat verlede week met ‘n tuinvurk in sy huis aangeval is, is volgens familie steeds in die hospitaal.
Eddie McLaren se dogter Violy Viljoen sê hy sterk aan nadat hy veelvoudige skedelfrakture opgedoen en ‘n ligte hartaanval oorleef het.
“Ons is baie hartseer oor wat gebeur het en hoop dat hy binnekort heeltemal gesond gaan wees. Op die oomblik word hy nog gemonitor om seker te maak hy is buite gevaar,” het Viljoen gesê.
McLaren het die dag van die aanval by die huis aangekom en niksvermoedend binnegegaan. Eers toe hy binne was, het hy besef daar is indringers in die huis. Hulle deur die dak toegang gekry.
McLaren is met sy eie tuinvurk aangeval.
Viljoen sê die frakture in sy skedel is besig om goed te heel.
“Hy is helder maar is soms nog deurmekaar. Voortaan sal hy maar by my of my suster bly. Dit is ontsettend moeilik om hom so te sien want hy was die gesondste 82-jarige wat ek nog ooit gesien het,” het Viljoen gesê.
Die Villieria-polisiestasie ondersoek die saak, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Vir meer plaaslike en internasionale nuus, besoek Rekord op Facebook of volg ons op Twitter.

