Ma stukkend dat seun so dood is
Die ma van 'n man van Eersterust wat twee weke gelede doodgeslaan is, is baie hartseer maar sê die Here, vriende, familie gee haar krag.
Die ma van ‘n man wat Woensdag 13 Augustus in Eersterust aangerand en later aan sy wonde beswyk het, sê die Here is haar steunpilaar.
Cecilia Osborne, die ma van Jethren Lloyd Osborne (31), sê sy is verpletter oor hoe seer haar seun gekry het voor sy dood.
Jethren is glo die aand van die voorval gevang toe hy ‘n skootrekenaar uit iemand se kombuis probeer steel het.
Sewe mans het hom uit sy ouerhuis in Heliumstraat gesleep en vir vriende van die familie gesê hulle gaan hom polisiestasie toe neem.
Instede daarvan het hulle hom na ‘n nabygeleë begraafplaas geneem en hom halfdood geslaan.
‘n Kind het hom gesien en sy familie ontbied.
Jethren is na die Steve Biko Akademiese-hospitaal geneem waar hy aan sy wonde beswyk het.
Cecilia wat tans in Uppington werk en tuisgaan, het so gou moontlik Pretoria toe gevlieg toe sy van Jethren se dood hoor.
“Ek kan nie by sy kamer ingaan om sy klere en goed uit te sorteer nie, dit gee my koue rillings. Die wete dat dit hier in my huis, in my erf gebeur het is erg vir my. Ek bly tans by my buurvrou en wil ‘n priester kry om die huis te seën,” het Cecilia gesê.
Cecilia sê sy is dankbaar vir die ondersteuning wat familie en vriende haar in hierdie moeilike tyd gee.
Sy sê Jethren se dood behoort ‘n ontnugtering vir die Eersterust-gemeenskap te wees om saam met die polisie te werk en dié soort gedrag stop te sit.
“Niemand het die reg om die gereg in hul eie hande te neem nie. As hulle my seun net polisiestasie toe geneem het sou hy darem nog geleef het,” het sy gesê.
Jethren is in die Eersterust-begraafplaas die Vrydag na sy dood begrawe.
“Hy was my oogappel en ek gaan hom vreeslik mis, maar die Here gee my krag en dra my in hierdie moeilike tyd. My familie en vriende ondersteun my ook baie. Ek dink aan die goeie tye, maar daar gaan ‘n tyd kom as ek terug is in Uppington en alleen gaan wees. Ek is nie seker wat gaan gebeur nie, maar ek is bly ek kon hier wees toe hy ter ruste gelê is.”
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
