
Terwyl ‘n rower ‘n vuurwapen teen Laurette Boshoff (58) se kop gehou het, het nóg ‘n aanvaller ‘n vuurwapen teen haar 89-jarige ma, Mart Earle, vasgedruk.
Boshoff en Earle het Woensdag omstreeks 13:25 voor hul huis binne The Ridge-veiligheidskompleks in Waterkloofrif stilgehou toe twee mans uit ‘n wit Volkswagen Golf gespring en gedreig het om hulle te skiet.
“Ek het die passassiersdeur oopgemaak om uit te klim toe die man skielik langs my staan,” het Boshoff gesê.
Haar ma het die voertuig bestuur.
“Die man het my handsak met twee selfone daarin en huissleutels gegryp en op my ma se diamantringe aangedring.”
Boshoff sê haar ma wou eers nie haar ringe afhaal nie, maar het dit uiteindelik gedoen toe sy besef hulle sou haar doodskiet.
“Dit het alles so vinnig gebeur,” het Boshoff gesê. “Die hele rooftog was seker binne twee minute verby.”
Sy het gesê die rowers het hulle vermoedelik dopgehou en van die Monumentpark-winkelsentrum af gevolg.
“Ek dink hulle het agter ons aangery, die veiligheidshek opgelig en deurgeglip toe ons nie kyk nie. Ons het ook by een van die veiligheidswagte gehoor daar was meer as twee mans waarvan een die bestuurder van die voertuig was.”
Die jongste voorval volg op ‘n soortgelyke aanval toe rowers twee weke gelede ‘n vrou van dieselfde winkelsentrum af gevolg het en by ‘n kleuterskool-huis op die hoek van Squirrelsteeg en Leeweg in Monumentpark beroof het.
Lees ook: Sewe rowers slaan toe in Monumentpark
Vir meer nuus en opvolge, ‘like’ Rekord op Facebook en volg ons op Twitter.
