Local newsNewsSport

Irvette van Zyl wen SPAR vrouewedloop met nuwe rekord

Die SPAR Ladies Challenge spog met 'n nuwe rekord tyd.

Saterdag 30 Augustus 2014 sal in die toekoms onthou word as die dag waarop die krieketstadion in Centurion op dieselfde dag meer mense in ligblou kon lok as Loftus Versfeld, al het die Blou Bulle teen die WP op hul geliefde tuisveld gespeel.

Sowat 25000 deelnemers, ondersteun deur nog sowat 10000 toeskouers het die strate rondon SuperSport Park in ‘n see van ligblou verander, nadat almal opgedaag het in hul amptelike blou wedloop T-hemde.

Vanjaar is die roetes geskei en die deelnemers aan die 10km wedloop het presies om 14:00 in ‘n noord-westelike rigting begin hardloop, nadat hulle in Suidstraat voor die Centurion rugbyklub se hek weggespring het.

Intussen het die deelnemers aan die 5km pretdraf in Wesstraat naby die oostelike ingang van SuperSport Park weggespring om hulle roete in ‘n noord-oostelike rigting te begin.

Na maande se beplanning en baie harde werk op die dag van die wedloop kan die organiseerders beslis weer ‘n reuse pluimpie kry. Hierdie wedloop word jaarliks groter, maar beslis ook beter. Die reëlings het besonder vlot verloop en die plan om die roetes te skei was ‘n reuse sukses.

Die stryd tussen die top atlete sou altyd besonder straf gewees het, maar kenners was tog verras met die uiteindelike uitslag. Vooraf is verwag dat Lebogang Phalula en René Kalmer onder die top drie sou eindig. Die verrassing van die dag was dat nie een van hulle dit uiteindelik onder die top drie medaljewenners gemaak het nie.

Kenners se oë het gerek toe die wenner van hierdie wedloop in 2011 en 2012, Irvette van Zyl, uitendelik by die ses kilometer merk op die roete die voortou geneem het en daarna die res van die atlete aan flarde gehardloop het. Dit was dus geen verrassing toe sy ook die wedloop in ‘n nuwe rekordtyd van 33minute en 32 sekondes gewen het nie.

Die tweede plek was nog ‘n verrassing, toe Van Zyl se spanmaat in die Nedbank span, Rutendo Nuyahora, kort op haar hakke gevolg het. In die derde plek was ‘n baie moeë Dina-Lebo Phalula, Lebogang se suster.

Met hierdie oorwinning het Van Zyl gesorg dat die Pretoria-wedloop in die SPAR vrouereeks deur ‘n plaaslike deelnemer gewen word. Sy is ‘n Pretorianer sedert haar onlangse huwelik met die Olimpiese atleet, LJ van Zyl.

Vir meer nuus, ‘like’ Rekord op Facebook en volg ons op Twitter.

Lees ook: Today is the SPAR Ladies Race!

Die eerste drie atlete oor die wenstreep in die Spar Vrouewedloop, wat Saterdag in Centurion plaasgevind het. Van links is Rutendo Nuyahora (tweede), Irvette van Zyl (wenner) en Dina-Lebo Phalula (derde).

Die eerste drie atlete oor die wenstreep in die Spar Vrouewedloop, wat Saterdag in Centurion plaasgevind het. Van links is Rutendo Nuyahora (tweede), Irvette van Zyl (wenner) en Dina-Lebo Phalula (derde).

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button