CrimeLocal newsNews

Sluwe vrou bedrieg nog inwoners

Die sluwe vrou wat op mense se gevoel speel en hulle dan besteel het nog inwoners in die Moot onlangs bedrieg.

Nog ‘n paartjie is onlangs met ‘n slap riem gevang nadat ‘n geslepe vrou hulle bedrieg en besteel het.

Quintin Truter en sy meisie, Heila Mienie, was verlede Saterdag by die huis toe ‘n vrou by hulle kom aanklop en vra vir huishulpwerk.

“Sy het verskriklik op Heila se gevoelens gespeel en gesê dat sy al vir maande werk soek en bereid is om vir R60 tot R70 ‘n dag te werk. Ons het gedink ons gee haar ‘n kans,” het Truter gesê.

Hy sê sy het na haarself as Salamina verwys en het dadelik begin skottelgoed was en uitvee.

Truter en Mienie moes vinnig ry om iets te gaan oplaai en het aangebied om haar in die huis toe te sluit tot hulle terug is, maar sy het volgehou dat sy die asblikke buite wou gaan leegmaak en hulle het vir haar ‘n sleutel gelos.

Mienie se ma, wat langs hulle woon, was buite besig om wasgoed op te hang toe die vrou haar vra hoe lank Truter-hulle gaan weg wees.

“Sy het vir Heila se ma gevra hoekom sy buite is en of sy nie iewers heen moet gaan nie,” het Truter gesê.

Heila se ma moes eindelik ook iewers heen gaan en vir Truter-hulle laat weet sy ry.

Skaars 20 minute later was Truter-hulle terug by die huis, net om te ontdek hul huis staan oop, die huishulp is weg en die huis is deursoek.

“Twee van ons drie laptops, verskeie goue juweliersware en R300 kontant was weg. Ons het sowat R32 000 se skade gelei,” het ‘n ontstoke Truter gesê.

Truter wil ander inwoners waarsku om versigtig te wees en op die uitkyk te wees vir dié geslepe vrou.

“Ek vermoed dit is dieselfde vrou waaroor Rekord nou al twee keer tevore berig het. Ek is moedeloos en voel dat ek nooit weer enigiemand wil help nie,” het Truter gesê.

Die modus operandi van dié vrou is dat sy elke keer ‘n ander naam en nommer gee, wat as jy die nommer bel af is, en op inwoners se gevoelens speel.

Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.

Lees ook:

Nog ‘n inwoner deur geslepe vrou bedrieg

Wees bedag op vrou wat inwoners besteel

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button