Agt rowers op vrye voet na rooftog
Agt rowers op vrye voet ná twee rooftogte in die noorde van Pretoria oor die naweek.

Sinoville-polisie is op soek na agt rowers wat twee afsonderlike sake-ondernemings oor die naweek beroof het.
Vyf rowers het een onderneming geteiken en ‘n groep van drie rowers het ‘n ander een beroof .
Die eerste roof was Saterdag omstreeks 08:20 by die Illala Palms in Montana toe drie gewapende mans die perseel binnegestorm het. “Hulle het ’n werknemer opdrag gegee om op die grond te lê en toe sy foon lui het een van die rowers hom in die gesig geskop,” het Mirna von Benecke, woordvoerder van Sinoville-polisie, gesê.
Die rowers het met ’n onbepaalde bedrag geld gevlug.
‘n Tweede rooftog het Sondagaand omstreeks 23:00 by die Tipsy Turtle in Montana plaasgevind.
“Vyf gewapende mans het die winkel binnegegaan en die werknemers opdrag gegee om al die geld uit die kluis te haal. ’n Onbepaalde bedrag geld is gesteel en daar was geen beserings tydens dié voorval nie,” het Von Benecke gesê.
Sy het gesê niemand is nog in verband met enige van die rooftogte in hegtenis geneem nie.
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
Lees ook:
