MunicipalNews

Bejaardes drie weke sonder water

'n Bejaarde paartjie van Waverley moes onlangs vir drie weke sukkel sonder water.

‘n Bejaarde vrou van Waverley is verlig dat sy weer lopende water by haar huis in Breyerstraat het, nadat die toevoer drie weke gelede skielik opgedroog het.

Saartjie du Toit en haar man Gert was eers heeltemal rustig en geduldig toe hulle Vrydag 15 Augustus ontdek dat hulle nie water het nie.

“Ek het gedink dit is roetine, soos die elektrisiteit wat hulle soms afskakel,” het Saartjie gesê.

Sy het die Tshwane-metro die volgende dag geskakel en ‘n verwysingsnommer gekry.

Toe die Du Toit’s teen Dinsdag die volgende week nog geen water het nie, het hulle begin bekommerd raak.

“Ons het rondgevra en ontdek dat ons al ons bure wel water het en ons het maar weer vir die metro geskakel en ‘n nuwe verwysingsnommer ontvang,” het Saartjie gesê.

Verskeie metro werkers was die 21ste sowel as die 28ste Augustus by hulle om agter die kap van die byl te probeer kom, maar niemand kon vir die Du Toits sê wat die probleem is nie.

“Dit is ongelooflik watse ongerief dit is om vir solank sonder water te wees. Ons kon nie behoorlik bad, skottelgoed of wasgoed was nie. Ek is net dankbaar dat my dogter een van my bure is, want sy kon ons darem help met water van hulle huis af,” het Saartjie gesê.

Sy kon gelukkig Maandag 1 September die nommer van ‘n vriend se kennis kry wat by die metro werk en skaars ‘n uur na sy die man gebel het, is haar probleem wonderbaarlik opgelos.

Die Du Toits is bly hul probleem is opgelos, maar ook vies omdat hulle so lank moes sukkel.

“Om vir drie weke sonder water te wees en nie eers te weet wat fout was nie nie is baie frustrerend. Ons is nie onredelik nie en verstaan enigiets kan gebeur, ietsie kan fout gaan iewers. Maar ons het twee keer metro werkers hier gehad en niemand kon ons sê wat die probleem is nie. Dit is belaglik dat mens so moet sukkel en baklei voordat enigiemand help,” het Saartjie gesê.

Vir daaglikse nuusbrokkies, ‘like’ Rekord op Facebook of volg ons op Twitter.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button