Naka Bulle klop Randfontein met vasbyt vertoning om vir Gold Cup halfeind te kwalifiseer
Naka Bulle het die afgelope naweek ’n groot aanslag van die Randfontein rugbyklub oorleef om te kwalifiseer vir die halfeindrondte van die nasionale Gold Cup klubrugby toernooi, maar hulle moet nou na Setaria in die Bosveld reis om die Northam Rhinos in die halfeindstryd te pak.
Die Naka Bulle rugbyklub se droom van ’n vierde agtereenvolgende titel in die nasionale Gold Cup klubrugby toernooi lewe steeds.
Dit het egter die afgelope naweek ’n vasbyt vertoning geverg om vir die halfeindrondte te kwalifiseer toe Marinus van der Watt se manne Saterdag op hul tuisveld ’n gedetermineerde aanslag van Randfontein moes afweer om uiteindelik met 45-37 te seëvier.
Die manne van die Wesrand, een van die Leeus se klubs in die kompetisie, het vanjaar ’n puik seisoen beleef en hulle het beslis Pretoria toe gereis om die verdedigende kampioen te probeer stuit.
Hoewel die tuisspan steeds sonder verskeie beseerde staatmakers moes klaarkom, is hul diepte onderstreep met hierdie oorwinning teen ’n baie goeie teenstander.
Dit het nou reeds byna gewoonte vir die manne van die Moot geword om hul rekening met hul gevreesde dryfspel te open en Saterdag was geen uitsondering nie. Na skaars drie minute se aksie kon agtsteman Luhan Potgieter afrond ná ’n dryfbeweging vanaf ’n lynstaan.
Vyf minute later het die besoekers egter teruggeslaan met ’n drie deur senter Michael Tolmay.

Foto: Frans Lombard

Foto: Frans Lombard

Foto: Frans Lombard
Nadat Randfontein kortstondig voorgeloop het weens ’n strafdoel deur losskakel Keagan Fortune, het Potgieter se tweede drie – wéér na goeie dryfspel van hom en sy mede voorspelers – die pendulum terug laat swaai.
Halfpad deur die eerste helfte het Naka Bulle dit wéér gedoen en dié keer was dit die hardwerkende slot, Stephan Vermeulen, wat die dryfbeweging kon afrond.
Nóg ’n strafdoel deur Fortune is gevolg deur Naka Bulle se vierde drie deur hul sterk binnesenter, Xavier Human, nadat losskakel Hansie Graaff die besoekers verras het deur ’n vinnige tikskop van ’n strafskop te neem.
Twee effens omstrede geelkaarte teen Naka Bulle het egter aan die besoekers – wat toé met agt voorspelers teen ses kon speel – die geleentheid gebied om in die doodsnikke van die eerste helfte die situasie uit te buit en twee keer te druk om rustyd met 27-26 voor te loop.

Foto: Frans Lombard

Foto: Frans Lombard

Foto: Frans Lombard
Met dreigende weerlig wat ’n invloed op die wedstryd kon hê moes Ecard Bosoff en sy makkers die tempo opjaag en in die tweede helfte so gou moontlik punte aanteken. Dít het linkervleuel Zandré Kruger gedoen met die drie van die wedstryd toe hy kort na die aanvang van die tweede skof met spoed en vernuf verskeie verdedigers geklop het in sy lopie van 50 meter op pad doellyn toe.
Sekondes nadat die tuisspan se voorspelers weer voltallig was het hulle dit ingevryf deur weer te druk met ’n slim beweging vanaf ’n lynstaan naby die doellyn.
Die Wesranders het egter geweier om die aftog te blaas en hul sterk eindpoging het twee drieë opgelewer. Drie puik strafdoele deur Graaff het egter gesorg dat die tuisspan se voorsprong groot genoeg bly om die druk op Randfontein te hou en uiteindelik ook die oorwinning te verseker.
Naka Bulle se beseringsprobleme sal beslis ’n invloed hê op hul voorbereiding vir die halfeindstryd. Hul gereelde kaptein en loskopstut, Ruan Grundelingh, het Saterdag as plaasvervanger op die veld verskyn, maar na minder as tien minute se aksie is hy weer duidelik in ongemak af, terwyl Vermeuelen ook die veld met ’n besering moes verlaat.
Naka Bulle se groostte toets in die toernooi vind waarskynlik eerkomende naweek plaas wanneer hulle weer hul ou aartsvyand, die Rhinos van Northam, in die halfeindrondte ontmoet. Weens die Rhinos se beter punteverskil op die punteleer sal die wedstryd op hul tuisveld in Setaria in die Bosveld gespeel word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.