Kapers steel kar, maar hardloop weg
Kapers het onlangs 'n Toyota Furtuner gesteel en in 'n boom vasgery.
Kapers het onlangs Ashley Becker se wit Toyota Fortuner probeer kaap, maar hulleself gefnuik.
Die voorval het Vrydagaand om 19:50 in Bromvoëlstraat in Rooihuiskraal plaasgevind. Becker se meisie en haar twee susters het van hul inkopietog af teruggekeer, en die motor in die motorhuis parkeer. Voor hulle die deur van die motorhuis kon toe maak, het drie gewapende mans op hulle afgestorm en hulle aangehou.
Al drie susters is uit die motor geforseer en gedwing om op die vloer van die motorhuis te lê. Die kapers het in die motor gespring, en daarmee uitgejaag. In sy haas het die bestuurder nie ‘n boom in die tuin gesien nie en daarteen vasgejaag.
Die drie mans het uitgespring en na ‘n motor wat in die straat vir hulle gewag het gehardloop.
Die Wierdabrug-polisiestasie is gekontak, en na ‘n lang gewag het hulle uiteindelik opgedaag. Die twee polisie-offisiere het hul verklarings afgeneem, maar gesê dat hulle nie vir vingerafdrukke gaan ondersoek doen nie, want Becker het nog sy motor dus is dit onnodig.
Hulle het ook nog geen verdere terugvoer aan Becker gegee nie, behalwe een SMS met die saaknommer.
Wierdabrug-polisie was nie beskikbaar vir kommentaar nie.
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
