Man fiets kwyt ná motorfietsryer hom takel
Twee motorfietsryers het 'n man van sy trapfiets afgery, hom aangerand en weggejaag.

‘n Man wat Vrydag sonder rede deur twee veldmotorfietse van sy fiets afgestamp en aangerand is, is ook sy splinternuwe fiets kwyt.
Sephiwe Khumalo (24) was op sy fiets op ‘n grondpaadjie langs Lynnwoodweg, toe twee jong mans hom glo met hul veldmotorfietse van sy fiets afgestamp het. Die mans het glo resies in ‘n veld langs die pad by Wapadrand gejaag.
Khumalo was op pad huis toe ná werk toe die twee kwaadstokers van ‘n teenoorgestelde rigting aangery gekom het. Die eerste man het verby gery en die ander een het hom van sy fiets af gery.
Die seun wat hom raak gery het, het glo afgespring en Khumalo geskop en geslaan.
Hulle het vir hom gesê hy ry k** en het hom ‘n p*** genoem.
‘n Ooggetuie, Victor Cloete, het gesê die voorval was “absoluut skokkend”.
Hy en sy gesin was net na 16:00 op pad huis toe, toe hulle die motorfietsryers opmerk.
Cloete het dadelik stilgehou en die boelies het weggejaag. Daar was nie registrasienommers op hul wit-en-blou en wit-en-oranje motorfietse nie. Hulle ry glo gereeld met hul motorfietse in die omgewing.
“Dit het my en my vrou dadelik aan die sogenaamde Waterkloof-vier laat dink,” het Cloete gesê.
“Ek het dadelik die polisie en ambulansdienste gebel. Weens my noodhulpopleiding kon ek bepaal dat Khumalo inwedige beserings opgedoen het. Sy linkerheup was gedislokeer.”
Cloete meen hulle het sowat ‘n uur vir ‘n ambulans gewag voordat Khumalo eindelik na ‘n hospitaal in Mamelodi geneem is.
Volgens hom het hulle boonop ‘n uur en ‘n half vir die polisie gewag.
“Die twee polisiemanne se reaksie was skokkend. Hulle het bloot gesê: ‘Jammer dit is nie ons area nie. Totsiens’. Geen verklarings was afgeneem nie en bewysstukke het op die toneel agtergebly.”
Volgens Cloete het die gemoedere onder omstanders hoog geloop en Max Sisulu, voormalige speaker van die parlement, het ook by die toneel stilgehou en op die polisie gewag.
Khumalo se fiets, waarvoor hy R650 betaal en met sy eerste salaris gekoop het, is afgeskryf. Voor hy sy fiets gehad het, moes hy 30km werk toe loop.
Cloete sê hy wil volgende week ‘n splinternuwe fiets en ‘n kospakkie aan Khumalo skenk vir die tyd wat hy nie kan werk nie.
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook or follow us on Twitter.
