CrimeLocal newsNews

Polisie wys wie is baas

Die Wonderboompoort-polisie het gewys wie is bass toe hulle verskeie arrestasies tydens die naweek uitvoer.

Die vinnige reaksie van Wonderboompoort-polisielede het dié naweek gesorg dat verskeie kriminele agter tralies sit.

Van vermeende kardiewe tot skrootmetaaldiewe is in hegtenis geneem.

Volgens Adjudant-offisier Wanda Olivier, polisiewoordvoerder, is ’n man en vrou Maandagoggend omstreeks 11:00 in Capital Park in hegtenis geneem nadat hulle blykbaar ‘n Isuzu-bakkie gesteel het en van ’n polisiehelikopter gevlug het.

Die polisiehelikopter het vir bystand gevra waarna Adjudant-offisiers Jaco Breetzke en Daniell Bruwer die voertuig agterna gesit het.

“Die man en vrou het die Isuzu-bakkie by die Caltex-vulstasie in Paul Krugerstraat gestop en in ’n wit Nissan-bakkie gespring en weggejaag,” het Olivier gesê.

Breetzke en Bruwer het daarin geslaag om die vermeende kardiewe vas te trek en in hegtenis te neem.

Volgens die vermeende kardiewe het hulle die Isuzu-bakkie vir R4 000 gekoop en het nie geweet dit is ’n gesteelde voertuig nie.

Die voertuig is onlangs in die Pretoria-Wes area as gesteel aangemeld.

Intussen het Adjudant-offisier Jacques Oosthuizen twee verdagte mans verby sy huis in Roseville gesien loop. Een van die mans het ’n leer by hulle gehad. Oosthuizen het bystand van die GPF Sektor 2-lede ingeroep.

“Die twee mans is by ’n skrootmetaalwinkel in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelike gesteelde eiendom. Die eindste leer is ook vroeër as gesteel aangemeld,” het Olivier gesê.

Die welbekende Adjudant-offisier Alfred Matlou het ook sy deel vir die gemeenskap tydens die naweek gedoen.

Hy het twee taxi bestuurders vir dronkbestuur in hegtenis geneem nadat hulle elk onderskeidelik oor twee rooi verskeersligte gejaag het.

“Die bestuurders is afgetrek en daar is bevind dat hulle onder die invloed van drank was,” het Olivier bevestig.

Die polisie maan ook voetgangers om op die uitkyk te wees vir drie verdagte mans wat ’n huishulp Saterdag langs die pad in Roseville geroof het.

Die drie mans het langs haar stilgehou, uit die voertuig gespring en haar met messe aangehou.

Hulle het haar van al haar waardevolle besittings geroof.

Volgens die huishulp se beskrywing is een van die rowers lank en maer, netjies geklee en het nie ’n linker oog nie.

“Enigiemand met meer inligting word versoek om die polisie te kontak,” het Olivier gesê.

Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button