Vinnige optrede deur die Moot-polisie het gesorg dat R7 800 se dwelms gekonfiskeer en ’n gesoekte dwelmhandelaar gearresteer is.
Volgens Luitenant Linda Jerling het polisie inligting opgevolg van ’n 32-jarige man wat moontlik met dwelms handel.
Die polisie het hom en drie onwettige immigrante saam in een kamer in Riviera opgespoor.
Adjudant-offisiers Anton Breedt en Francois Nolte in samewerking met polisie reserviste en lede van die Tshwane-metropolisie het ongeveer nege sakkies heroïen ter waarde van R800 tydens die ondersoek gevind.
Daar is bevind dat dieselfde man in 2012 in Sunnyside gesoek is vir die besit van dwelms.
In ’n ander insident het Konstabels Martin Rambau en Richard Rakolote ’n verdagte man in die Wonderboom-area opgemerk.
Die polisie het die 45-jarige man deursoek, dwelms gevind en hom vir die besit van dwelms in hegtenis geneem.
“Tydens die polisie ondervraging het die man die naam van die verskaffer bekend gemaak. Hy het die 27-jarige verskaffer gekontak, ’n bestelling geplaas en die polisie kon die verskaffer ook in hegtenis neem vir die besit van vyf sakkies CAT,” het Jerling gesê.
Die verskaffer se huis is deursoek en ’n verdere 30 pakkies CAT ter waarde van R7 000 is gevind.
Beslag is gelê op vermoedelik gesteelde eiendom soos selfone en kameras.
Die polisie vermoed dat die eiendom as betaling in ruil vir dwelms aangebied is.
Vir meer nuus, besoek Rekord op Facebook en Twitter.

