Local newsNewsSport

Groenlig vir ontwikkeling

Na maande se onderhandeling kan die Loftuspark ontwikkeling langs Loftus Versfeld uiteindelik voortgaan.

Ná ‘n jaar van onderhandelinge tussen die eiendomsontwikkelingsmaatskappy, Abland, en die Clydesdale Village Association (CVA) is vonkelwynglasies uiteindelik verlede week geklink toe ‘n ooreenkoms tussen dié twee partye geteken is.

Hierdie ooreenkoms beteken dat kontrakteurs vroeg in 2015 kan begin met die eerste fase ter voorbereiding vir die bou van Loftus Park. Die spoggerige ontwikkeling sal geleë wees op die grond tussen die Loftus Versfeld stadion in die suide en Parkstraat in die noorde en tussen Kirknessstraat (wes) en die Pretoria High School for Girls (oos).

Die ontwikkeling is reeds ‘n jaar gelede amptelik bekendgestel, maar is tydelik vertraag deur ‘n beswaar wat na die metro gebring is deur die CVA wat inwoners van die woonbuurt wes van Loftus Versfeld verteenwoordig. Eerder as om mekaar in die hof te takel, het Abland en die Clydesdale-inwoners besluit om gemoedelik met mekaar te onderhandel en deur vrywillige mediasie mekaar te vind met ‘n oplossing waarby albei partye baat. Die voorgestelde Loftus Park sal ontwikkel word vir veelsydige gebruik. Dit sluit in kantoorruimte, ‘n vierster hotel, ‘n opelug Piazza met waterfonteine en kunswerke, omring deur ‘n restaurant en ‘n mikro-brouery, ‘n uitgesoekte kleinhandel komponent gefokus op sport en sportdrag of -toerusting, ‘n sport rehabilitasiesentrum, ‘n gimnasium en ‘n uitsoek-kruidenierswinkel/deli wat ‘n eerste van sy soort na Pretoria bring.

Die ontwerp is deur Dirk Henzen van Studio 3 agritekte gedoen. Hoewel daar volgens Dirk Kotze, voorsitter van CVA, nog ‘n erfenis-impakstudie uitstaande is, het hulle reeds só ver gevorder met die onderhandelinge dat hulle bereid was om amptelike dokumente te teken wat Abland in staat sal stel om voort te gaan met die ontwikkeling. CVA is tevrede dat al hul grootste besware ten opsigte van sekere estetiese aspekte in die onderhandelingsproses bemiddel is.

Die CVA sal ook saam met die vier bekende skole in die omgewing, Pretoria High School for Girls, Pretoria Boys High School, Afrikaans Hoër Seunskool en Afrikaans Hoër Meisieskool, asook die Universiteit van Pretoria en die Blou Bulle Rugby-unie deel uitmaak van ‘n forum wat ten doel het om die groter omgewing voortdurend te bevorder wat verkeer, veiligheid en sensitiwiteit met betrekking tot die ryk erfenis wat hierdie omgewing kenmerk betref.

Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button