Oor byna af ná aanranding
'n Reaksie offisier van 'n bekende sekuriteitsfirma is onlangs aangerand toe hy op 'n paniekknoppie gereageer het.
‘n Reaksie offisier van Eagle Eye Tactical Response is Saterdag in die vroeë oggendure by ‘n bekende kroeg in East Lynne aangerand, nadat ‘n paniekknoppie by die kroeg gedruk is.
Die offisier, wie se identiteit vir sekurieteitsdoeleindes nie bekend gemaak word nie, het gereageer op ‘n paniekroep van iemand in die kroeg en het ‘n bakleiery in die kroeg aangetref.
Hy het die gevegte stopgesit en die kwaaddoeners gevra om buitentoe te gaan.
Terwyl hy hulle buitentoe begelei het, het ‘n ander man hom voor die bors gegryp en begin rondruk.
‘n Groep mans het hom toe getakel. Nadat die offisier uit selfverdediging die man weggestamp het en omdat die aanvallers hom in getalle oortref het, het hy probeer weghardloop.
Drie van die mans het hom glo per motor agterna gesit en hom met ‘n golfstok aangerand, terwyl hy self ongewapen was.
Volgens Jan Oosthuizen, woordvoerder van Eagle Eye Tactical Response, het ooggetuies die offisier gehelp en daarna nooddienste geskakel.
Hy is per ambulans na ‘n hospitaal geneem.
Sy linkeroor is middeldeur geslaan en sy oordrom het gebars, terwyl hy ook inwendige beserings en gekraakte ribbes opgedoen tydens die voorval.
“Hy is besig om in die hospital aan te sterk, maar daar is ‘n groot moontlikheid dat hy permanent doof gaan wees as gevolg van die aanval,” het Oosthuizen gesê.
Oosthuizen wou nie die naam van die kroeg waar die voorval plaasgevind het openbaar nie, aangesien die saak nog ondersoek word.
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
