Veiligheidsman betrap dief op heterdaad
Die bestuurder van 'n veiligheidsmaatskappy het 'n man op heterdaad met 'n gesteelde skootrekenaar in sy besit betrap.
Die bestuurder van ‘n veiligheidsmaatskappy het Saterdagmiddag ‘n dief op heterdaad met gesteelde items in sy besit betrap en agternagesit.
Marcé Bester van Hi-Risk Unit was omstreeks 15:30 op pad na ‘n vergadering by Menlyn toe hy ‘n man opmerk wat onder ‘n boom langs Solomon Mahlangurylaan met ‘n skootrekenaar op sy skoot sit.
“Ek het onraad vermoed en ‘n ent verder besluit ek draai om en wou die man gekonfronteer,” sê Bester.
Bester het langs die pad stilgehou, maar die man het weggehardloop.
“Ek het hom agternagesit en reaksie-eenhede oor die radio geroep. Lede van die gemeenskapspolisiëringsforum en ander veiligheidsmaatskappye het ook gereageer en die man het die skootrekenaarsak in die lang gras gegooi en gevlug,” het Bester gesê.
Die sak met die skootrekenaar en ‘n paspoort daarin is na die Lyttleton-polisiekantoor geneem.
Die polisie sal die saak verder ondersoek.
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
