Beter mediese toetsing vir boksers gevra
Boks is een van die oudste sportsoorte in wêreldgeskiedenis, maar bly een van die gevaarlikste.
Boks is een van die oudste sportsoorte in wêreldgeskiedenis, maar bly een van die gevaarlikste.
Omdat boksers se primêre doelwit is om ’n teenstander uit te slaan (dus, in ’n staat van bewusteloosheid te slaan), is dit logies dat die grootste gevaar in dié sportsoort ’n breinbesering behoort te wees.
Breinbeserings is natuurlik moontlik in heelwat ander sportsoorte, soos hokkie, rugby, krieket en selfs perdesport, maar in boks en ander variante van dié sport, is die risiko uiteraard die grootste.
Sover bekend, is die tragiese dood van Phindele Mwelase die vierde van hierdie aard in die geskiedenis van die sport in Suid-Afrika.
Mwelase van Ladysmith in KwaZulu-Natal het op Saterdag 10 Oktober in die skoolsaal van die HTS Tuine teen Liz Butler, ’n lid van die plaaslike klub, in ’n professionele junior middelgewig-geveg oor agt rondes te staan gekom.
Nadat sy goed begin het en selfs in die eerste rondes soms vir Butler in die moeilikheid gehad het, is Mwelase in die sesde ronde tweekeer so hard deur Butler se regtervuis geskud dat sy op die krytvloer beland het.
Die eerste keer het sy weer opgestaan en die skeidsregter se telling geklop, maar die tweede keer was dit gou duidelik dat sy in die moeilikheid is toe sy stadig vooroor geval het nadat sy op haar knieë neergesak het.
Toe Mwelase eers haar bewussyn verloor, kon die dokter van Boks Suid-Afrika (BSA) wat aan diens was by die kryt én twee manne van ’n paramedici-eenheid haar nie bybring nie. Sy is hospitaal toe geneem, waar daar later bevind is dat sy bloeding op die brein het en geopereer moes word.
Nadat dit aanvanklik gelyk het of sy sou herstel, het sy die afgelope naweek ’n terugslag gehad en aan komplikasies gesterf.
Pieter de Wet, woordvoerder van Real Steel Promosies wat die toernooi gereël het, het die promotors reeds in beginsel besluit om nie weer ’n bokser op enige van hul toernooie toe te laat wat nie in die voorafgaande jaar ten minste een breinskandering ondergaan het nie.
De Wet glo daar is ’n leemte in die regulasies van BSA, wat slegs ’n gewone jaarlikse mediese ondersoek en die roetine-ondersoek voor gevegte voorskryf vir boksers om in die kryt toegelaat te word.
De Wet sê druk sal op BSA toegepas word om boksers te verplig om minstens een keer per jaar ’n breinskandering te ondergaan, sodat probleme wat nie met ’n gewone ondersoek raakgesien word nie, wel op hierdie manier opgespoor kan word.
‘n Atleet kan byvoorbeeld ’n aneurisme op die brein hê wat nie met ’n gewone mediese ondersoek gediagnoseer word nie. Hoewel so ’n sportman normaal kan oefen en geen tekens van ongesteldheid sal wys nie, kan ’n harde hou teen die kop dié aneurisme laat bars, wat breinbloeding en die dood tot gevolg sal hê.
Volledige besonderhede oor die amptelike oorsaak van Phindele Mwelase se dood is nog nie bekend nie en die verslag van die nadoodse ondersoek kan volgens De Wet slegs met die toestemming van haar familie bekend gemaak word.
Intussen het dit bekend geword dat Mwelase ’n broodwinner in haar familie was. De Wet sê Real Steel Promosies sal alles in sy vermoë doen om hulle tydens die begrafnis by te staan.
Vir jou daaglikse nuus, besoek Rekord se Facebook en Twitter blaaie.
Lees ook: Vrouebokser sterf na uitklophou
