St Stithians van Randburg is vanjaar se wenner van die Pretoria Skole o.15-tennistoernooi. Hoërskool Waterkloof was die 2014-gasheer.
Dié toernooi het ‘n dekade gelede afgeskop toe Hoërskool Waterkloof, Afrikaans Hoër Seunskool en Pretoria Boys High begin het om jaarliks op die tennisbaan kragte te meet.
Intussen het die kragmeting sy kinderskoene ontgroei en tien van die beste tennisskole in die land word jaarliks genooi om deel te neem. Dit word ook as die mees gesogte o.15-tennistoernooi in Suid-Afrika beskou.
Vanjaar se mededingers was: Afrikaanse Hoër Seunskool; Grey College, Bloemfontein; Hoërskool Menlopark; Hoërskool Nelspruit; Hoërskool Waterkloof; Paul Roos Gimnasium; Pretoria Boys High School; Selborne College, Oos-London; St Benedict’s College, Bedfordview en St Stithians Boys’ College van Randburg.
Weens die gewildheid van die Pretoria Skole o.15-tennistoernooi brei die byeenkoms volgende jaar uit wanneer 12 skole sal meeding, met Pretoria Boys High wat gasheer speel.
