CrimeLocal newsNews

PTA-predikant en kinders deur Taliban vermoor

'n Pa en sy twee tienerkinders is in Afghanistan doodgeskiet omdat die Taliban beweer het hulle doen sendingwerk.

Inwoners in die ooste van Pretoria is in rou ná ‘n leraar predikant aan die NG Kerk Moreletapark en sy twee tienerkinders Saterdag in ‘n selfmoordbomaanval deur die Taliban in Kaboel, Afghanistan gesterf het.

Werner Groenewald (46), sy seun, Jean-Pierre (17), en dogter, Rodé (15), is Saterdagaand in die Karte Seh-woonbuurt doodgeskiet toe drie militante met selfmoordbomme en vuurwapens op die huis waarin hulle gebly het, toegeslaan het.

Die Taliban het die oud-Pretorianers daarvan beskuldig dat hulle in die geheim sendingwerk gedoen het.

Werner se vrou en die twee kinders se ma, Hannelie Groenewald, is die enigste lid van die gesin wat nog leef.

Sy was nie by die huis toe haar man en kinders koelbloedig vermoor is nie en was ten tye van die aanval by ‘n kliniek waar sy as ‘n dokter werk.

‘n Familielid het Maandag gesê Hannelie het by die kliniek van die aanval op haar man en kinders gehoor.

Sy is deur die polisie na die huis vergesel en het gesien hoe die lyke van die perseel verwyder word.

Hulle is geskiet, maar is nie op slag dood nie en het waarskynlik gely.

Volgens die familielid het Hannelie vir haar gesê haar man is eerste geskiet.

Hy het gewond na die boonste verdieping, waar die kinders was, gehardloop om hulle te beskerm.

Hy en die kinders is in die seun se kamer doodgeskiet.

Afgaanse veiligheidsmagte het kort daarna op die huis toegesak en twee van die aanvallers doodgeskiet. Die derde een het homself opgeblaas.

Taliban-woordvoerder Zabiullah Mujahid het verantwoordelikheid vir die aanval op Twitter aanvaar en gesê dat die huis dié van ‘n “geheime Christelike sendingsgroep” was.

Die Groenewald-egpaar is vir die afgelope tien jaar vir Partnership in Academics and Development (PAD), ‘n hulpgroep wat arm en weeskinders in verskeie lande in die Midde-Ooste en Sentraal-Asië opvoed, betrokke.

PAD het op sy webwerf gesê: “Dit is met groot hartseer dat ons berig oor die afsterwe en beserings van verskeie van ons personeellede tydens ‘n aanval gister by die kantoor van PAD in Kaboel.”

“Ons is besig om alle personeel en hul gesinne te versorg terwyl hulle die verlies van hul vriende en medewerkers betreur. Ons eer hul toewyding aan die mense van Afghanistan. Ons treur vir hul verlies en hou hulle naby aan ons hart. Ons gedagtes is met die oorlewendes en hul families. Hul onbaatsugtige opoffering vir die mense van Afghanistan is ‘n inspirasie vir almal.”

Willem Badenhorst, predikant by die NG Kerk Moreletapark het gesê hy het Saterdagaand met Hannelie gepraat. Badenhorst het gesê Hannelie was in skok en dat die realiteit haar eers later getref het. “Haar hart is gebreek,” het hy gesê.

Die kerk het in ‘n verklaring gesê die gemeente was geskok toe hulle die nuus ontvang.

“Hul dood is nie net ‘n reuse verlies vir die gemeente nie, maar ook vir die mense in Afghanistan vir wie hulle met soveel liefde en toewyding bedien het,” het die verklaring gelui.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook or follow us on Twitter.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button