CrimeLocal newsNews

Rugby-legende se skedel kraak toe kapers hom met klippe gooi

'n Bekende oud-rugbyspeler het erge beserings opgedoen toe ses mans hom in Waterkloof probeer kaap het.

Die oud-Springbokrugbylegende Hannes Strydom (49) is in die hoësorgeenheid van ‘n Pretoriase hospitaal met ‘n gekraakte skedel opgeneem ná ses kapers sy voertuig Maandag in Waterkloof met klippe bestook het en hy teen sy kop getref is.

Hy is ook deur een van die kapers met ‘n skroewedraaier gesteek.

Riaan van Zyl, familiewoordvoerder, het Dinsdag aan Rekord gesê Strydom was Maandagmiddag omstreeks 16:00 van Groenkloof op pad na Irene toe twee mans voor hom in die pad naby die Waterkloof-golfbaan spring en maak asof daar iets in die pad was.

Strydom het stadiger gery sodat hy nie die twee mans met sy Toyota Prado tref nie.

“Die mans het ‘n klip byna so groot soos ‘n baksteen na die voertuig gegooi in ‘n poging om die ruit te breek. ‘n Tweede baksteen het gevolg, deur die passassiersruit gevlieg en Hannes hard teen die kop getref,” sê Van Zyl.

“Vier ander kapers het uit die bosse gespring en een van hulle het saam met Hannes in die voertuig gespring en sy sleutels probeer gryp.”

Van Zyl sê Strydom, wat in daardie stadium half bewusteloos was, het terugbaklei en die kaper ‘n paar keer met die vuis bygedam.

Die mans het vermoedelik geskrik en gevlug. Hulle het die sleutels gesteel, maar die voertuig met Strydom daarin net daar gelos.

Van Zyl het op ‘n bebloede Strydom afgekom na dié hom gebel het en hom na die hospitaal gehaas.

Strydom se skedel is van die boonste punt van sy kop tot by sy neus gekraak. Volgens Van Zyl sal hy later plastiese sjirurgie moet ondergaan om die groot kopwond te herstel.

“Hy is gelukkig stabiel en die neurosjirurg is gelukkig met sy vordering,” sê Van Zyl. “Ons verwag dat hy teen vanmiddag (Dinsdag) uit die hoësorgeenheid na ‘n gewone saal geskuif sal word.”

Strydom het as Springbokslotslot in die 1995-rugbywêreld uitgedraf. Hy het 21 toetswedstryde vir die Springbokke gespeel en is die enigste oud-rugbyspeler in dié span wat nog in Pretoria woon.

Rekord het voorverlede week berig Irene Myburgh (43) is op slag dood toe ‘n klip haar op 18 November teen die keel getref het.

Irene en haar man, Pieter, het onderdeur die Atteridgevillebrug in die weste van Pretoria gery toe ‘n klip van die brug af gegooi is, deur die voertuig se passasiersruit gevlieg het en haar keel gesny het.

Vriende en familie het verlede week tydens ‘n gedenkdiens in Waterkloof van haar afskeid geneem.

Vir meer plaaslike nuus, besoek Rekord se webtuistes:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook Rekord op Facebook of volg ons op Twitter.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button