CrimeLocal newsNews

Roudiens vir vermoorde predikant en kinders

'n Roudiens word Vrydag vir die Pretoriase predikant en sy twee tienerkinders wat in Kaboel vermoor is, gehou.

‘n Roudiens word hierdie week in Pretoria gehou vir die Groenewald-gesin wat verlede Saterdag in ‘n selfmoordbomaanval deur die Taliban in Kaboel, Afghanistan gesterf het.

Die diens vind Vrydag om 10:00 plaas in die NG Kerk Moreletapark, waar Werner Groenewald (46) vyf jaar lank as predikant gewerk het.

Werner, sy seun, Jean-Pierre (17), en dogter, Rodé (15), is verlede Saterdagaand in die Karte Seh-woonbuurt doodgeskiet toe drie militantes met selfmoordbomme en vuurwapens op hul woonplek toegeslaan het.

Die Taliban het die oud-Pretorianers daarvan beskuldig dat hulle in die geheim sendingwerk doen. Werner se vrou en die twee kinders se ma, Hannelie Groenewald, is die enigste oorlewende lid van die gesin.

Riana du Plessis, Hannelie se suster, het Maandag gesê dit is nog onseker of Hannelie of die lyke van haar man en kinders betyds in SA sal wees vir die roudiens. Hannelie se reisdokumente is in die aanval op die huis verbrand.

“Die proses is aan die gang en ons probeer ons bes om haar binnekort hier te kry,” het Du Plessis gesê. Sy kon nie ‘n datum vir Hannelie se terugkeer vasstel nie.

“Voorbereiding van die reisdokumente en dokumente vir repatriasie van die liggame is tans in proses tussen die hoë-kommissariaat van SA in Islamabad en die Britse konsulaat in Kaboel.”

Du Plessis sê dis ‘n omslagtige proses om die lyke uit Afghanistan na SA te bring. Sy sê Hannelie is ‘n sterk vrou, maar beleef ‘n moeilike tyd. “Sy en Werner het mekaar 28 jaar geken en was 25 jaar getroud. Dit is vir haar moeilik om hul dood te verwerk.”

Lees ook:

PTA-predikant en kinders deur Taliban vermoor

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook or follow us on Twitter.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button