
Drie gewapende mans is Dinsdag gefnuik toe hulle helder oordag probeer het om ‘n gesin van Hennopspark in Centurion te beroof.
Lede van die gesin het blitsig reageer en ‘n voltreffer teen die wang het die mans klaarblyklik die skrik op die lyf gejaag. Hulle het die hasepad gekies sonder om iets te steel.
Frances Janse van Rensburg en haar dogter, wat om veiligheidsredes anoniem wou bly, het vroegmiddag hul inkopies in Centurion gedoen. Hulle het huistoe gery en was reeds in die erf toe drie mans in ‘n goudkleurige voertuig voor hul hek stilhou.
Twee van die mans het uitgeklim en gemaak asof hulle hulp met ‘n adres nodig het.
“My dogter het hulle probeer reghelp, maar die mans het gemaak of hulle nie verstaan nie,” het Janse van Rensburg gesê.
Die mans het meteens gebuk, die hek van sy spoor af gelig, dit oopgemaak en met vuurwapens by die erf ingeloop.
Janse van Rensburg se dogter het haar pepersproei uitgehaal en was gereed om te spuit toe Roelof Lubbe, Janse van Rensburg se seun wat tuis was, die lawaai buite hoor. Hy het die rowers gesien, op die een afgepyl en hom met ‘n vuis teen die gesig bygedam.
Die rower het op die grond geval en sy makker het ‘n vuurwapen teen Lubbe se gesig gedruk.
Janse van Rensburg het intussen by die huis ingehardloop en die paniekknoppie gedruk.
Die alarm het geskreeu en die verwarde skurke het na hul voertuig gehardloop, ingespring en weggejaag.
“Hulle het seker gedink ons gaan niks doen nie,” het Lubbe gesê. “Hulle het duidelik nie dié reaksie verwag nie.”
Vir gratis gemeenskapsnuus besoek Rekord se webwerwe:
“Like” ons Facebook-blad of volg ons op Twitter.
