
‘n Jong man is Saterdag na bewering deur Hercules gemeenskapspolisiëringsforum (GPF)-sektorlede in Pretoria Tuine aangerand.
Dean Swanepoel sê hy was by ‘n vriend se huis toe ‘n besoeker opdaag en iets aan sy vriend oorhandig. Sy vriend het dit in ‘n sakkie gesit. Swanepoel het sy vriend daaroor gekonfronteer en toe geloop.
“Toe ek uitloop, sien ek ‘n voertuig in die straat wat begin om my te jaag. Ek het aan die ander kant van die pad gehardloop en die voertuig het my gevolg. Die mense in die voertuig het geskree ek moet stop,” het Swanepoel gesê.
Volgens Swanepoel was daar omtrent vyf voertuie wat hom gejaag het. Hy het toe gestop en ‘n paar mense en sektorlede het saamgedrom.
“Een van die mense van ‘n voertuig het my begin aanrand en die ander het my ook aangerand. Daar was omtrent vier sektorlede wat my aangerand het. Een vrou wat ook ‘n sektorlid is, het hulle gestop en gekeer dat die sektorlede my saam met hulle vat.”
Volgens ‘n ooggetuie was dit ‘n sektorlid en gewone persoon wat Swanepoel aangerand het en hulle het hom hard op sy rug en ribbes geslaan.
“Die mans het beweer dat Swanepoel in een van hulle se erf was en met sy voertuig gepeuter het. Een van die mans het hom hard op sy rug geslaan en die sektorlid het hom in sy ribbes geslaan. ‘n Vrou van die sektor het die mans gestop en die polisie geroep,” het die ooggetuie, wat anoniem wou bly, gesê.
Sy het gesê die mans het in hul voertuig geklim en wou Swanepoel saam met hulle neem, maar die sektor-vrou het gekeer. Die mans het weggery.
“Die jong man is daarna polisiekantoor toe en die polisie het hom vrygelaat want daar was geen saak teen hom nie.”
Swanepoel het gesê die polisie het voorgestel dat hy ‘n klagte teen die mans lê wat hom aangerand het, maar hy is bang want sektorlede agtervolg hom nou.
Hercules GPF-voorsitter Conrad Naudé het bevestig dat hy bewus is van die voorval en nog een wat twee weke gelede gebeur het waartydens twee sektorlede in hegtenis geneem is vir die rig van ‘n gas-vuurwapen op ‘n lid van die publiek.
In die voorval waar die twee sektorlede ‘n gas-vuurwapen op ‘n lid van die publiek gerig het, is daar bewerings dat die sektorlede nie soos ander verdagtes behandel word nie, maar slegs ‘n uur in aanhouding was en toe vrygelaat is. Hulle het dadelik weer aan diens gegaan en patrollie hervat.
“Ek is bewus van die voorvalle. Ek is bewus van een sektorlid wat in hegtenis geneem is en sy het die volgende Maandag in die hof verskyn. Ek is (nie-amptelik) ingelig dat die geval nie ingeskryf was nie. Ons wag op bevestiging in hierdie verband,” het Naudé gesê.
“Ons sal die beweerde aanranding ondersoek deur verklarings van die betrokke mense te neem en dan sal die GPF se dissiplinêre proses toegepas word, soos voorgeskryf deur die grondwet van die GPF.”
Hy het ook daarop gewys dat sektorlede die oë en ore van die polisie is en dat hulle veronderstel is om op ‘n ordelike en gedissiplineerde wyse op te tree, ten einde die polisie te help wanneer nodig.
Volgens Swanepoel meen inwoners daar is baie sektorlede wat dit geniet om die publiek te help en hulle reputasie word ook geskaad deur lede wat mense aanrand en maak wat hulle wil. Dan word daar gedink al die sektorlede is dieselfde.
Anoniem het gesê: “Ek wil net vir die sektorlede wat nie mense slaan nie en wat altyd help en vriendelik is, sê baie dankie vir jul bereidwilligheid om altyd te help. Dis altyd lekker en wonderlik om sekere van die sektorlede voor my huis te sien verbyry en te weet hulle doen dit vir die liefde van die saak.”
Die publiek kan enige klagtes teen sektorlede by die GPF voorsitter inhandig: Conrad Naudé, 082-921-3744 of per e-pos by conradnaude@gmail.com of by die Hercules bevelvoerder Kolonel Johan De Villiers by 012-377-4100.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook or follow us on Twitter.

