Hoogte- en laagtepunt vir polisie
Die Sinoville-polisie het hul hoogte- en laagtepunte met Rekord gedeel.

Die Sinoville-polisie het die afgelope jaar seker gemaak dat verskeie misdadigers agter tralies is.
Dit blyk uit ‘n opgawe van hoogte- en laagtepunte vir die polisie in dié area, wat deur woordvoerder Mirna von Benecke verskaf is.
Die polisie het gesorg dat daar 16 huisrowers en inbrekers asook 10 dwelmhandelaars agter tralies sit.
“Dit is slegs die sake wat die koerante gehaal het. Verskeie ander inhegtenisnemings is ook tydens die jaar gemaak waarvan een die konfiskering van sowat R11 000 se dwelms was.”
Von Benecke sê sommige van die oortreders het ‘n lang lys van misdade wat poging tot moord, besit van gesteelde eiendom en die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunasie insluit.
“Ons het ook Laerskool Stephanus Roos se inbreker vasgetrek. Hy het in Maart vanjaar by ‘n klaskamer ingebreek en is op kringtelevisie vasgelê. Hy is November in hegtenis geneem. In verskeie skoonmaak operasies is juwele, pangas, dwelms, skroewedraaiers, skêre en verskeie ander huisbraak toerusting in velde gevind en op beslag gelê. Skole en kleuterskole in die area is besoek om die band tussen die polisie en die jeug te versterk. Daar was selfs ‘n pretdag saam met Uitkoms versorgingsentrum gehou,” het sy gespog.
Daar was ook wel terugslae vir die polisie tydens die jaar.
Adjudant-offisier Ben Strydom is op 24 Julie vermoor en ‘n vlaag selfoonwinkel-rooftogte het Pretoria getref.
“Ben se dood het ons stasie tot in sy fondamente geruk. Daardie dag se gebeure is ingebrand in ons geheue en ons sal dit nooit vergeet nie,” het sy gesê.
Sy het gesê die gebied was propvol positiewe en negatiewe gebeure.
“Maar ons werk hou nooit op nie. Met die passie vir ons werk en ‘n positiewe gesindheid dien ons die gemeenskap, en is die polisie 24/7 beskikbaar.”
Sy maan inwoners om seker te maak hul voertuie is gesluit en te sorg dat alle waardevolle besittings buite sig gebêre is. “Hou jou huisdeure en hekke ten alle tye gesluit. Wees veilig tydens die feesseisoen.”
Vir gratis gemeenskapsnuus besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ons Facebook-blad en volg ons op Twitter.
Lees ook:
Gemeenskap bring hulde aan polisieman
Twee in hof oor vakansieslenter wat lei tot polisieman se dood
