CrimeNews

Seun (15) verras fietsdief met vuishou

'n 15-Jarige seun van Kilnerpark het 'n fietsdief met die vuis bygedam toe dié sy fiets wou afneem.

Vier mans wat onlangs ‘n tienerseun van Kilnerpark se fiets wou steel, het hulle boeglam geskrik toe dié 15-jarige hulle met ‘n vuishou verras.

Die mans, vermoedelik in hul vroeë 20’s, het die hasepad gekies toe Juan Kuhn, ‘n graad 9-leerling aan Hoërskool Oos-Moot, ‘n voltreffer teen een se gesig geplant het.

Juan was verlede Sondag omstreeks 16:00 op pad na sy huis toe die mans, sommige met bierbottels in die hand, in ‘n ry op hom afgestap kom.

“Ek was op pad van die skaatspark in Haarhofstraat en het met ‘n smal paadjie tussen die nywerheids- en woongebied gery toe ek hulle sien,” het Juan aan Rekord vertel.

“Hulle was doodstil. Toe ek naderkom het twee aan die een kant en twee aan die ander kant van my gaan staan. Ek het tussen hulle probeer deurry toe hulle my fiets se handvatsels aan weerskante gryp. Hulle het begin lag.”

Juan sê hy het geweier om van sy fiets af te klim en die mans het die fiets begin ruk.

“Ek het regop op my fiets gestaan en instinktief die linkerkantste man onder die ken geslaan,” sê Juan.

“Hy het gestruikel en hy en sy makkers het geskok weggehardloop.”

Juan het so vinnig as wat hy kon weggery.

“Ek was baie bang en wasbleek in die gesig toe ek by die huis kom,” sê hy.

“My vuis was vir die eerste paar dae seer, maar voel nou beter.”

Juan sê hy sal nooit weer dié paadjie huis toe ry nie.

“Ek weet nie of ek weer op dieselfde manier in só ‘n situasie sal optree nie. Ek het nie gedink nie. Om hom te slaan was net my eerste reaksie,” sê hy.

Juan se ma, Rentia, sê sy is trots op haar ‘yster’.

“Ek glo God hou hom elke dag veilig – dit is die wonderwerk van gebed,” sê sy.

Vir gratis gemeenskapsnuus besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ons Facebook-blad en volg ons op Twitter.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button