CrimeLocal newsNews

Sestien honde gesteel in slenter

Sestien honde is deur 'n "inspekteur" gesteel in die noorde van Pretoria.

Sestien opregte honde is Vrydag van ‘n hondeteler in Waterval, noord van Pretoria, gesteel deur ‘n man en vrou wat hulself as “inspekteurs” voorgedoen het.

Die agt sewe weke-oue labradors en agt worshonde is sowat R30 000 werd. Die labradors — vier reuns en vier tewe — sou hierdie week aan ‘n troeteldierwinkel gelewer word.

Die teler, Trudy Otto, beskryf die diewe as ‘n fris Engelssprekende man met grys hare en ‘n Engelssprekende vrou met lang rooi hare.

“Ek het net teruggekeer van die dorp af toe ‘n wit Nissan Nirvana bakkie met ‘n wit kap buite die huis stilhou,” sê Trudy.

Die woord “inspector” was voor op die bakkie aangebring en aan weerskante van die voertuig was swart sirkels met die koppe van honde geverf.

Trudy se seun, Jaco, sê die man het vertel dat hy klagtes ontvang het en daarom ‘n inspeksie moes doen.

Die man het vlugtig ‘n gelamineerde “sertifikaat” geflits en gesê hy is gekwalifiseerd. Trudy en Jaco het geen onraad vermoed nie en die man en vrou na die honde gebring.

“Die vrou het gevloek en geskel en fout gevind met alles. Sy het gesê die hokke is vuil, al maak ons hulle minstens vier keer ‘n week skoon,” sê Jaco.

Die man het aan die die Otto’s gesê die honde lyk siek en moet weggeneem word.

Hy het gedreig om die Otto’s te skiet toe hulle weier. Die man het die Otto’s verseker hy sal die honde Sondag terugbring saam met ‘n paar sakke beter hondekos.

Trudy sê: “Dit is soos om iemand aan die dood af te staan. Ek kan nie verstaan wat ons gedoen het om hierdie vreeslike pyn te verdien nie.”

Die man wou Trudy se bull terriers ook vat, maar toe hy hoor die honde is geregistreer by KUSA (Kennel Union of South Africa) het hy hul gelos.

Trudy teel al 20 jaar lank met worshonde en die afgelope jaar met labradors.

“Daar is vir my niks lekkerder as om iemand se hart bly te maak met ‘n hond nie. ‘n Hond is ‘n seëning,” sê sy.

Korkey Levanon, die woordvoerder van die Tshwane-Dierebeskermingsvereniging (DBV) sê die vereniging se inspekteurs ry met voertuie wat duidelik gemerk is.

“Daar is ‘n spesifieke vorm wat voltooi moet word voordat die DBV ‘n dier mag wegneem.”

Die Otto’s vra dat enigeen met inligting oor die diefstal die Sinoville polisiekantoor bel, waar die saak aangemeld is.

In November verlede jaar is vyf huskies in ‘n soortgelyke slenter in Waverley gesteel. Drie van die vyf honde wat deur sogenaamde SPCA-inspekteurs verwyder is, is intussen teruggevind.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook or follow us on Twitter.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button