Dief slaan toe op kerk
'n Kerk in die Moot is onlangs besteel deur 'n man wat hom voorgedoen het as 'n kerkganger.

Kerke is die jongste teiken vir diewe in die Moot.
Gemeente lede van die Afrikaanse Baptiste Kerk Rietfontein is verlede Sondag deur ‘n man besteel nadat hy ewe vroom gemaak het of hy daar is om die diens by te woon.
Diaken Gerhard Briel sê almal wat besteel is, het lank na die diens ontdek dat hulle beroof is.
“Die man was netjies aangestrek en het na homself verwys as ‘Moses’. Hy het uitgevra oor die dienstye en het gesels oor hoe ‘n mooi diens die dag voorgelees is,” sê Briel.
“Hy het ‘n paar selfone gesteel uit handsakke in die kerk, want hy het heeltyd rondbeweeg terwyl die kerk volgeloop het voor die diens.”
Briel sê dat die man het ook ‘n saamry-geleentheid gevra van een van die gemeentelede, wat goedgunstelik ingestem het.
“Hy het gevra om by Michael Brink afgelaai te word. Die man en vrou wat hom gaan aflaai het, het later by die huis ontdek dat die vrou se selfoon uit haar handsak in die motor gesteel is.”
Briel maan ander gemeentes om paraat te wees en op die uitkyk te wees vir mense wat heeltyd rondbeweeg in die kerk.
“Daar is baie kerke in die Moot en as hy hulle een vir een gaan teiken kan hy met baie selfone en geld wegkom. Kerke se hekke staan elke Sondag oop en ons verwelkom graag nuwe lede, maar as iemand alleen kom en heeltyd rondloop moet mens maar versigtig wees.”
Woordevoerder van die Moot-polisiestasie, Luitenant Linda Jerling, sê dat dié soort diefstal nie ‘n tendens in die Moot is nie.
“Dit is nie iets wat gereeld in die area gebeur nie, maar mense moet altyd paraat wees en bewus van wat om jou aangaan.”
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook or follow us on Twitter.
