Gauteng het die meeste plaasmoorde
Sedert 1 Januarie 2015 het nege plaasmoorde landwyd reeds plaasgevind.

Gauteng is die provinsie met die hoogste plaasmoordsyfer in die land met 387 plaasmoorde in 721 aanvalle tussen 1 Januarie 1990 en 13 Januarie 2015.
Sedert 1 Januarie 2015 het nege plaasmoorde landwyd reeds plaasgevind. Verlede jaar was daar landwyd 277 plaasaanvalle waarin 67 mense vermoor is. Dit bring die nasionale totaal op meer as 1 700 sedert 1990.
Die syfers is gister in ‘n gesamentlike nuusverklaring deur AfriForum en die Transvaalse Landbou unie SA (TLU SA) bekend gemaak.
Dit blyk dat daar sedert 2011 ‘n stelselmatige styging in die jaarlikse aantal plaasmoorde was.
AfriForum en TLU SA het hulle kommer uitgespreek oor die feit dat President Jacob Zuma die afgelope naweek ‘n beroep op boere gedoen het om plaaswerkers se lewensomstandighede te verbeter, maar nie bereid was om standpunt in te neem oor die duisende boere wat al vermoor was nie.
“Ons twee organisasies gaan in die nabye toekoms ‘n skrywe aan die sekretaris-generaal van die African National Congress, Gwede Mantashe, rig om ‘n gesprek met die ANC-leierskap aan te vra,” sê Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum.
Genl.maj. Chris van Zyl, wat navorsing oor die plaasmoorde gedoen het, sê daar is sowat 34 000 kommersiële boere in die land, wat na beraming sowat 600 000 plaasarbeiders in diens het.
“Wat die syfers meer skokkend maak, is dat die getal van kommersiële boere aan die krimp is, maar nie die plaasaanvalle of moorde nie,” sê hy.
Van Zyl sê Gauteng is die gevaarlikste provinsie vir boere. Rondom die twee groot metropole van Gauteng – Johannesburg en Tshwane – is ‘n magdom kleinhoewes wat as landbougebied geklassifiseer is.
Die polisie se landelike veiligheidstrategie is ondoeltreffend in hierdie gebiede.
Die mees kwesbare en geteisterde kolle volgens Van Zyl se syfers is Wallmansthal, noord van Pretoria, die Ermelo korridor in Mpumulanga; Tzaneen en die Vivo gaping in Limpopo; Brits en Rustenburg in Noordwes provinsie, en Bloemfontein/Botshabelo in die Vrystaat.
Roets sê ten spyte daarvan dat die regering in 1990 plaasmoorde erken het as ‘n krisis wat geprioritiseer moet word, is die kommandostelsel in 2003 afgeskaf sonder dat die rede hiervoor verskaf is.
Van die belofte dat die kommandostelsel met ‘n soortgelyke struktuur vervang sou word, het nog niks van gekom nie. In 2003 het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ook besluit dat geen verdere syfers oor plaasaanvalle en -moorde uitgereik mag word nie.
“Om hierdie rede sê ons dat plaasmoorde as’t ware deur die regering gedeprioritiseer is,” sê Roets.
AfriForum en die TLU SA is bekommerd oor die politieke klimaat in Suid-Afrika waarin geweld teen boere geromantiseer word.
“Ons ervaring is dat Suid-Afrika se voedselproduseerders as politieke slaansakke gebruik word. Hulle word deur politici as sondebokke vir Suid-Afrika se krisisse voorgehou,” sê Roets.
“Die feit dat die regerende party nie sy weg oopsien om uit eie beweging in die openbaar standpunt in te neem vir die beskerming van boere se regte nie, word as bevestiging hiervan beskou.”
Hy sê die golf van plaasmoorde wat die land teister dui daarop dat die polisie se landelike veiligheidsplan nie doeltreffend is nie.
“In die eerste plek is ons van mening dat die plan die situasie mistas, omdat daar geen vermelding van plaasmoorde gemaak word nie. Enige poging om oor landelike veiligheid te praat sonder om aan plaasmoorde erkenning te gee, sal tevergeefs wees,” sê Roets.
“In die tweede plek is die plan ook nie doeltreffend nie, omdat dit nie op grondvlak geïmplementeer word nie.”
AfriForum en TVL SA is van plan om vanjaar aktiewe veldtogte te loods vir die prioritisering van plaasmoorde. Beide organisasies sal die regering vra om in te gryp.
Gemeenskappe sal ook opgeroep word om beter na hulle eie veiligheid om te sien deur by plaaslike veiligheidstrukture betrokke te raak.
In hierdie verband sal gefokus word op die verskerping van veiligheid van huis en haard deur die benutting van nuwe tegnologie, kommunikasie, reaksievermoë en gebeurlikheidbeplanning, asook die stigting van plaaslike veiligheidsnetwerke.
Nog ‘n doelwit is om die veldtog teen plaasmoorde aan die internasionale klok te hang.
