
Tussen vier en ses huisinbrake en diefstalle uit motors word daagliks by die Sinoville polisie aangemeld.
Daar word ook meer elektriese hekmotors gesteel, sê polisiewoordvoerder Mirna von Benecke.
Sy maan motoriste om hul waardevolle besitting te alle tye in die kattebak te bêre voor hulle ry.
Sy het gesê die meeste breek-en-gryp-diefstalle gebeur tussen Paul Krugerstraat en Lavenderweg tot by Sefako Makgathoweg.
“Daar is baie oënskynlike bedelaars in dié strate wat motoriste met hul truuks vang. Ons stel voor dat motoriste nie die mense met gelddonasies ondersteun nie.”
Motoriste moet ook seker maak dat hul geparkeerde voertuie wel gesluit is. “Moenie net die afstandbeheer-knoppie druk en wegstap nie. Maak eers seker dat die deure gesluit is.”
Von Benecke sê dit verg net tussen vyf en 10 sekondes vir ‘n dief om toegang tot ‘n voertuig te kry.
“Dit is van kardinale belang om jou waardevolle items in die kattebak te bêre voordat jy ry. Moenie dit in die parkeerarea van ‘n winkel doen nie. Diewe kan jou dalk net dophou.”
Von Benecke het ook wenke wat kan help om inbrake te voorkom.
“Maak seker dat al jou deure, veiligheidshekke en vensters toe en gesluit is. Bêre alle tuingereedskap uit die oog uit en trek jou gordyne en blindings toe.”
Sy sê items buite jou erf wat moontlik as ’n merker kan dien, moet verwyder word.
“As die skuifhek nie wil oopgaan nie, moenie uitklim en kyk wat die probleem is nie – dit mag dalk ‘n foefie wees. Kyk eers of daar nie dalk ‘n kabelbinder tussen die hek en pilaar is wat dit verhoed om oop te skuif nie.”
Vir meer nuus, besoek Rekord se webwerwe:
‘Like’ ons Facebook blad en volg ons op Twitter.
