CrimeNews

Rower sterf in woeste Centurion-skietery

'n Rower is Woensdag doodgeskiet en nog een gevang ná 'n wilde jaagtog en woeste skietery op die ou Johannesburgpad in Centurion.

‘n Woeste skietery het Woensdagoggend in Rooihuiskraal losgebars toe lede van ‘n sekuriteitsfirma en die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) vyf rowers agternagesit het.

Een van die vlugtende mans is in die wilde jaagtog doodgeskiet.

Wierdabrug Sektor 2 GPF-voorsitter Pierre Viviers sê die GPF is ontbied na ‘n huis in Manie Maritzstraat, waar daar vermoedelik ‘n huisroof aan die gang was.

“Toe ‘n GPF-lid by die toneel opdaag, het ‘n rower ‘n vuurwapen uitgepluk en op hom gerig, saam met sy makkers in hul Toyota Hilux gespring en begin jaag,” sê Viviers.

“Die GPF-lid het hulle agternagesit en Monitor Net het sowat drie blokke verder by die jaagtog aangesluit om ondersteuning te bied.”

Viviers sê die strate in die omgewing is onmiddellik geblokkeer en die rowers het met die ou Johannesburgpad probeer wegkom.

Die GPF en Monitor Net-span was kort op hul hakke en ‘n woeste skietery het losgebars.

“Die rowers se voertuig se regtervoorwiel is naby die Centurion Lifestyle-sentrum stukkend geskiet, maar hulle het voortgejaag,” sê Viviers.

“Die rowers het naby Saxbylaan ‘n TV en ander items, wat vermoedelik gesteel is, uit die voertuig begin gooi in ‘n poging om van hul agtervolgers ontslae te raak. Hulle het ‘n rooi verkeerslig op die hoek van ou Johannesburgpad en Wierdaweg genader en aan die linkerkant van die verkeer probeer verbygejaag.”

Die rowers se voertuig het by ‘n spruit omgeslaan en tussen die riete en gras geland.

Een van die gewapende rowers is doodgeskiet. Een van sy medepligtiges is gevang toe hy probeer weghardloop. Die ander drie het die bosse in gevlug.

Die Wierdabrug-polisie kon teen druktyd nie meer inligting verskaf nie.

jaagtog 1

Photo: Monitor Net
Photo: Monitor Net

Vir gratis nuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

‘Like’ ons Facebook blad en volg ons op Twitter.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button