‘n Jong toekomstige bruid se hart is stukkend nadat haar pa Dinsdagoggend koelbloedig doodgeskiet is deur ‘n man wat sy voertuig wou kaap.
Die 64-jarige Lourens Erasmus, eienaar van Mantus-tuindienste, het vroeër die oggend soos gewoonlik in sy bakkie geklim om ‘n kliënt se tuin in Parktown Estate te versorg, vertel sy dogter Denise.
Erasmus en sy werker het rustig in hierdie tuin gewerk toe ‘n man om die draai in The Grovestraat aangehardloop kom om sy bakkie te kaap. Dié man het vroeër die oggend ‘n BMW in Morganlaan probeer kaap, maar kon nie die voertuig bestuur nie.
Hy het die voertuig agtergelaat en weggehardloop met die polisie kort op sy hakke. Die vlugtende man het Erasmus langs die pad sien staan en ‘n skoot in sy rigting afgevuur wat die tuindienste-bakkie getref het.
Erasmus het met sy gelisensieerde vuurwapen ook skote in die kaper se rigting afgevuur, maar dit is nog onduidelik of die kaper gewond is.
“My pa is vier keer getref. Die paramedici het hom na die Steve Biko-hospitaal gehaas waar hy ‘n noodoperasie ondergaan het. Dit was seker so 10:45 toe hy teater toe is. Hy is presies 00:06 Woensdagoggend oorlede,” sê ‘n hartseer Denise.
“Ek het so daarna uitgesien dat my pa my na die kansel begelei wanneer ek oor ‘n paar maande trou. En nou is hy weg.”
Denise is dadelik hospitaal toe, toe die nuus van die skietery haar bereik.
“Die dokters het alles moontlik gedoen om hom te help, maar sy beserings was net te ernstig. Hulle het vir my gesê dit lyk nie goed nie en dit is toe dat ek my ma bel. Ons almal is stukkend, maar gelukkig het ons ‘n stewige ondersteuningsnetwerk wat ons baie help.”
Nadat Erasmus geskiet is, het hy Denise gebel. “Babatjie, ek is geskiet,” was sy laaste woorde aan haar.
Denise sê haar pa was ‘n liefdevolle mens wat enige vertrek kon opvrolik wanneer hy instap. Hy was gek oor jag en het groen vingers gehad.
“Hy was ‘n pensionaris en het die tuindienste bedryf om ‘n ekstra inkomste te genereer. Dié besigheid het eintlik spontaan ontwikkel nadat hy in sy vrye tyd sy ouers se tuin versorg het. Mense het gesien hy is goed en het hom begin nader om hulle tuine ook te versorg. Dit was toe hy Mantus-tuindienste gestig het.”
Die Erasmus-gesin het hul dankbaarheid teenoor die polisie, ambulansdienste en die lede van die GPF uitgespreek.
“Ons wil veral die paramedikus bedank vir sy vinnige optrede. Dankie aan almal wat my pa bygestaan het. Hulle harde werk en vinnige optrede word waardeer,” het Denise gesê.
‘n Moord en kapingspoging word deur die polisie ondersoek.
Vir gratis gemeenskapsnuus in jou area, besoek Rekord se webwerwe:
‘Like’ ons Facebook blad en volg ons op Twitter.
Lees: Bejaarde man twee keer geskiet
Bejaarde man beswyk aan sy wonde
