
Die mense van die Moot skrik duidelik nie vir vreemdelinge wat moontlik die veiligheid van hul kinders kan bedreig nie.
Blitsige aksie deur ouers, sekuriteitsmaatskappye, Laerskool Pierneef en die Villieria-polisie het gesorg dat die ware identiteit van drie verdagte mans vinnig vasgestel is.
Frik Greyling, hoof van Laerskool Pierneef, sê leerlinge het ‘n vreemde wit Hyundai i20 die afgelope ruk opgemerk en die voertuig se registrasienommer neergskryf.
“Ons het ‘n omsendbrief op Woensdag aan die ouers gestuur om hulle oor dié voertuig te waarsku.”
Die wit Hyundai is Donderdagoggend weer by Laerskool Pierneef gesien waarna ouers dadelik tot aksie oorgegaan het.
Kaptein Koba Brits, woordvoerder van die Villieria-polisie, sê ouers het die verdagte voertuig in 25ste Laan opgemerk en die drie insittendes vasgetrek.
“Die ouers het baie vinnig gereageer. Dit was ‘n asemrowende bewys van hoe die gemeenskap hande saam met die polisie owerhede vat,” het sy gesê.
Die drie mans is na die Villieria-polisie gebring vir ondervraging. Daar is vasgestel dat hulle MTN-werkers is wat doenig is met seinsterkte.
“Ons het versoek dat werkers in die verskillende Moot-areas hulself by die polisiestasie aanmeld sodat hulle nie as verdag gebrandmerk word nie,” het Brits gesê.
Liza Janse van Rensburg van die Villieria-polisie wat van die eerstes op die toneel was, het gesê sy is beïndruk deur die gemeenskap se samewerking.
“Dit bewys hoe die Moot saam staan. Dankie aan Kilnerpark-sekuriteit en Secure24 wat spoedig op die toneel was.”
Vir gratis nuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
