Bekende ‘sakkies-man’ sterf
Die bekende 'sakkies-man' is Dinsdagoggend dood in Capital Park aangetref.

‘n Bekende gesig onder die haweloses van Capital Park is dood.
Die lyk van die ‘sakkies-man’, wat vir jare op en af in Flowerstraat in Capital Park beweeg het, is Dinsdagoggend op die hoek van Flower- en Paul Krugerstrate gekry.
Die man, wat sedert die 80s in Capital Park te sien was, was as Madala Maponya bekend aan diegene wat naby genoeg aan hom gekom het. Sy klere het uit swart plastieksakke bestaan.
Adjudant-offiser Wanda Olivier, woordvoerder van Wonderboompoort-polisie, sê die bejaarde man in sy sestigs is waarskynlik aan natuurlike oorsake dood.
“Geen misdaad word vermoed nie, maar ‘n nadoodse ondersoek word gedoen.”
Welmar Ras, ‘n Flowerstraat-inwoner, sê hy ken die sakkies-man sedert 1999.
“Die Capital Park-gemeenskap het vir jare na die man omgesien. Hy was deel van die gebied en baie mense het vir hom omgegee. Hy het sy dae gehad wat hy baie nors was, en hy was geweldig trots,” vertel Ras.

Hy het kos en water aanvaar van inwoners wat hy vertrou het.
“Daar was nie baie mense wat na aan hom kon kom nie omdat hy niemand vertrou het nie. DA-raadslid Elma Nel het haar bes probeer om hom na hospitale of skuilings te vat, maar die volgende dag was hy net weer terug op straat.”
Alhoewel Maponya se lewensverhaal ‘n raaisel was, was inwoners oor ‘n paar dinge seker – hy was gek oor piesangs, Fanta Orange-koeldrank, pap en vleis en het swart sakke vir klere gedra.
“Hy het wel ook ‘n jas ook gehad, maar die sakke was maar sy kleredrag. Madala wou nie sommer geld, klere of kos by vreemdelinge aanvaar nie. Hy het ook nooit ‘n dag in sy lewe gebedel nie. Hy was ‘n troste man en so het dit gebly tot op sy laaste,” het Ras gesê.
Volgens Ras het Maponya se gesondheid die afgelope agt weke verswak. Desondanks het hy steeds hulp geweier.
“Ek gaan hom baie mis. Hy was deel van Capital Park,” sê Ras.
For more community news, visit Rekord’s websites:
Also like our Facebook page and follow us on Twitter.
