Vrou rongestamp vir bankkode
Vrou is rondgestamp en aan die arm gepluk toe drie mans haar bankkode wou hê.

Drie mans het ‘n vrou die afgelope naweek hardhandig by ‘n OTM rondgestamp in ‘n poging om haar pin-kode in die hande te kry
Rosa Funchal het Saterdagmiddag omstreeks 14:00 geld by ‘n Standardbank-OTM in Kolonnade onttrek toe drie mans haar skielik teen die teller stamp.
“Hulle het my agter een van die tellers met die privaatskerms ingedruk en beveel dat ek my geheime kode insleutel. Ek het geweier,” sê sy.
Funchal het om hulp geroep en die polisie op haar selfoon gebel.
“Die mans het my net aangestaar en vir my gelag. Niemand het my kom help nie. Daar was ook geen sekuriteit in sig nie,” vertel sy.
Die mans het haar aanhou stamp en aan die arm rondgepluk, maar padgegee toe sy weer om hulp skree.
Funchal sê haar man Henry het die episode by die sentrumbestuur aangemeld.
Monique van Rensburg, woordvoerder van Kolonnade, sê niks van hierdie aard is by die sentrumbestuur, veiligheidskantoor of die inligtingstoonbank aangemeld nie.
“Op interne beeldmateriaal het ons wel gesien dat twee mans ‘n vrou steur by ‘n OTM. ‘n Mens kan sien dat sy haar selfoon gebruik.”
‘n Veiligheidswag het ook die voorval bevestig, hoewel hy dit nie aangemeld het nie.
Die Kolonnade het veiligheidswagte by die ingange, maar hulle staan nie pal op een plek nie omdat hulle ander gebiede moet patrolleer, sê Van Rensburg.
For more community news, visit Rekord’s websites:
Also like our Facebook page and follow us on Twitter.
