Niemand is nog in hegtenis geneem vir die panga-aanval op ‘n bejaarde egpaar van Valhalla in Centurion nie, het die polisie Woensdag gesê.
Wierdabrug-polisiewoordvoerder Kaptein Agnes Huma het gesê die polisie is nog op soek na die twee mans wat verlede Donderdagoggend in Philip en Oranje van Rooyen (albei 60) se huis in Gulfossweg ingebreek en hulle met ‘n panga en ‘n skroewedraaier in hul slaapkamer gedreig het.
Jan Visagie, ‘n vriend van die egpaar, het aan Rekord gesê hoewel die egpaar nog baie getraumatiseerd is ná die aanval, dit dag vir dag beter met hulle gaan.
Oranje is Saterdag uit die Unitas-hospitaal ontslaan ná ‘n skynhartaanval weens erge skok. Sy en Philip, wat gesigwonde opgedoen het, sterk nou tuis aan.
Twee inbrekers het omstreeks 02:15, terwyl die paartjie geslaap het, toegang tot die huis verkry deur die diefwering van ‘n ander kamervenster oop te breek.
Die rowers het Philip wakker gemaak en gewaarsku om stil te bly.
“Oranje het wakker geword, ‘n man met ‘n panga in sy hand gesien en geskree,” het Visagie gesê.
“Die rowers het die paartjie se hande en voete met ‘n selfoonlaaier-koord vasgebind en komberse oor hul koppe gegooi.”
Philip, wat aan diabetes ly en sukkel met sy sig, is deur een van die rowers met die vuis bygedam en een van sy tande is uitgeslaan.
Die rowers het ‘n televisiestel, selfoon, juwele en geld gesteel en gevlug.
“Philip het Oranje se voete losgewoel en sy het ‘n mes in die kombuis gaan haal om hul hande los te sny,” het Visagie gesê.
Die paartjie het die Wierdabrug-polisie ontbied, wat glo binne enkele minute op die toneel was.
Vir gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
‘Like’ ons Facebook blad en volg ons op Twitter.
Lees: Paartjie met panga en skroewedraaier aangeval
