
Dit lyk nie of daar geld is om Pretoria se munisipale swembaddens te onderhou nie.
Raadslede Elmarie Linde en Hendrik Fourie van die Demokratiese Alliansie sê die party se jongste koukus is meegedeel dat die metro nie geld het om chloor en ander toebehore te koop nie.
“Die Les Marais- en die Tjaart van Vuuren-swembaddens is of buite werking of grasgroen. Inwoners is nie veronderstel om hierdie soort diens van die metro af te ontvang nie,” het Linde gesê.
Linde beweer weens swak bestuur en onvoldoende beplanning is die swembaddens ontoeganklik vir inwoners.
Volgens Fourie het ‘n ontstoke inwoner hom gebel omdat hy ‘n maand-swemkaartjie gekoop het, maar hy kan dit nie gebruik nie.
“Die inwoners gebruik die swembaddens om te oefen of vir ontspanning. Nou kan hulle dit ook nie eens meer doen nie,” het hy gesê.
André Swanepoel, ‘n ontstoke swemmer, het tydens 2014 ‘n maand-kaartjie vir R205 gekoop vir toegang tot die verskillende swembaddens.
“Ek bly in Capital Park en gebruik die swembad in Les Marais omdat dit nader aan my is. Nou moet ek al die pad Hillcrest toe ry wat byna R40 ‘n dag kos.”
Die metro het nie onmiddellik terugvoer verskaf nie.
Vir gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

