‘n Waterkloof-inwoner is bekommerd oor ‘n geroesde munisipale lamppaal wat voor haar eiendom stadig besig is om te kantel.
Esther Naudé het in Oktober verlede jaar die wankelende paal by Tshwane metro aangemeld. Die onderkant daarvan het volgens haar amper heeltemal deurgeroes.
“Die paal leun al skuins en ‘n geringe stamp teen die paal kan dit laat val. Motors parkeer op die sypaadjie naby die paal en dit staan reg langs ons oprit,” het Naudé gesê.
Volgends Naudé het die paal ‘n inspeksie-plakker op, maar niemand het dit al ingevul om aan te dui wanneer ‘n inspeksie gedoen is nie.
Sy is bekommerd oor die gevaar wat die lamppaal inhou, aangesien kerkvriende van haar ouers in Nelspruit se seun dood is toe sy motor in ‘n soortgelyke stukkende lamppaal vasgery het.
“Ek wil net mense bewusmaak en vra om paraat te wees en sulke pale by die munisipaliteit aan te meld.”
Volgens DA-raadslid van Wyk 42, Bronwynn Engelbrecht, is die stukkende paal rede tot kommer. “Ek wil ook inwoners aanmoedig om soortgelyke probleme by Tshwane aan te meld en dan ook hul raadslede te kontak om hierdie klagtes op te volg,” het Engelbrecht gesê.
Tshwane metro was was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.



