MunicipalNews

Tweestryd oor Môregloed parkie

Inwoners van die park en inwoners van die area is tans in 'n tweestryd oor die toekoms van die tennisbane van die Môregloed parkie.

Afgesperde tennisbane by die Môregloed-parkie in Chamfutistraat is tans die onderwerp van ‘n tweestryd tussen vermeende onwettige inwoners by dié tennisbane en inwoners van die omgewing.

‘n Inwoner van Chamfutistraat, wat vir veiligheidsdoeleindes anoniem wil bly, sê sy is keelvol vir die onwettige bewoners in die parkie.

“Die tennisbane is nie net ‘n seeroog nie, maar hierdie mense het die vermetelheid om ons kinders R5 ingangsfooi te vra vir die gebruik van ‘n openbare park.”

Volgens die inwoner was daar sprake dat die tennisbane gesloop sou word omdat dit nie onderhou word nie. “‘n Vrou van die stadsraad het bevestig dat hierdie mense onwettig daar woon. Volgens die stadsraad het hulle ‘n hofbevel om hierdie mense uit die tennishuisie te sit waar hulle op die oomblik woon.”

Die inwoner sê daar is al meer mense as net die oorspronklike man en vrou wat in die klein tennishuisie woon. “As dit net hulle twee was en hulle het die plek onderhou, was dit ‘n ander storie, maar die plek lyk vieslik, met ou meubels wat orals rondstaan en ‘n hoop gemors wat by die dag groter word.”

Volgens Ester Marais, die president van H.E.L.P, onderhou sy en haar man die parkie en is die meeste inwoners in die omgewing gelukkig met hulle. “Dit is onder ons aandag gebring dat mense gekla het oor ‘n toegangsfooi van R5 per dag om die parkie se geriewe te gebruik. Dit sluit in die volleyball-, netbal- en tennisbaan, asook ‘n BMX-ryplek en skaatsbaan. Die parkie is sedert Augustus 2013 onder nuwe bestuur. Ons is ‘n nie-winsgewende organisasie genaamd H.E.L.P.-projekte, gestig in 1992 en geregistreer in 2002 met NPO nommer 022/850. Ons het sedertdien talle mense gehelp om hul eie kleinsake te begin,” het Marais gesê.

“Ons het die park van die stadsraad gekry op voorwaarde dat ons toesig en beheer oor die park sal hou 24-uur per dag, sonder enige betaling van die stadsraad. Ons is afhanklik van los werkies om onsself te versorg. Vantevore is die park se geboue gevandaliseer. Ouers laai die kinders op eie risiko daagliks by ons af, gaan doen hul inkopies en doen hul sake en ons kyk dan na die kinders.”

Volgens Marais vra hulle ‘n toegangsfooi om te voorkom dat sluipslapers en dwelmverslaafdes toegang kry tot parkie en ook tot die kinders. “Ons is besig met onderhandelinge om die parkie van die stadsraad te koop of te verkry vir gebruik as ‘n opleidingsentrum om kinders te help met die oprig van hul eie kleinsake, vir sport en ontspanning en ook as ‘n krisissentrum,” het Marais gesê.

Volgens haar woon net sy en haar man op die eiendom. Tshwane-munisipaliteit het nie dadelik enige van die inwoners se bewerings bevestig nie.

Vir meer nuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

‘Like’ ons Facebook blad en volg ons op Twitter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button