‘n Inwoner van East Lynne voel of hy verdrink in frustrasie oor ‘n waterrekening van duisende rande.
Dawid Coetzer sê hy het ‘n lekkende watermeter in Februarie aangemeld. Stank vir dank was ‘n waterrekening van R9 500.
Hy sukkel steeds om die probleem op te los.
“Die watermeter is op 12 Februarie vervang, wat beteken dat ek amper R 10 000 se water in een maand verbruik het, wat tog onmoontlik is,” vertel ‘n moedelose Coetzer.
“Ek as pensionaris sal nie die rekening kan betaal nie en gaan maar die maand net `n bedrag betaal wat ek gewoonlik gebruik vir water.”
Rekord het vroeër berig dat Coetzer op 2 Februarie ontdek het dat sy watermeter lek. Hy het die munisipaliteit van die probleem verwittig.
“Ek het sedertdien elke paar dae gebel om op die saak te volg, maar daar word elke keer vir my gesê dat daar baie probleme in my gebied is en dat ek moet geduldig wees,” het hy destyds gesê.
Die watermeter is eindelik op 12 Februarie reggemaak, maar die water wat vir tien dae in die straat afgestroom het het Coetzer se rekening skynbaar tot amper R 10 000 opgestoot.
Woordvoerder van die Tshwane-metro Lindela Mashigo sê die saak sal ondersoek en die rekening aangepas word.

Vir meer gratis nuus besoek Rekord se webtuistes:
Gaan besoek Rekord op Facebook of volg ons op Twitter.
