Verskeie pensioenarisse van Capital Park ontvang al vir maande, elke maand ‘n ongelooflike elektrisiteitsrekening van die Tshwane-metro, glo te danke aan ‘n ‘stelsel fout’.
Die pensioenarisse, wat elk ‘n gemiddeld van R1 300 per maand staatspensioen ontvang, se rekeninge is tussen R700 en R800, vir waarna verwys word op hul rekeninge as ‘kragbokspeutering’.
As gevolg van hul lae inkomste kwalifiseer hierdie bejaardes, volgens die metro, vir 100 eenhede krag per maand, maar te danke aan hierdie onbetaalde fooi op hul rekeninge het hulle nie eers meer toegang tot dié bietjie hulp nie.
DA raadslid van die wyk Elma Nel sê dit is bog dat hierdie bejaardes aan hul kragbokse peuter en die metro het dit bevestig.
“Hoe dink hulle sal hierdie bejaardes weet hoe om die meters self terug te draai? Dit is verregaande. Twee metrowerknemers het verlede jaar self na hierdie kragbokse kom kyk en vir my en die pensioenarisse gesê dit is ‘n stelsel fout,” het Nel gesê.
“Intussen is nog niks reggestel nie en boonop trek hierdie belaglike fooi elke maand rente. Wat begin het as ‘n fooi van R609 is nou al tussen R700 en R800.”
Een van die pensioenarisse, Lenie Botes, het hierdie aanmerking beklemtoon.
“Ons is bejaardes en hierdie bokse waarvan hulle praat is met slotte gesluit.”
Nog ‘n moedelose pensioenaris, Anges du Plessis, is bekommerd oor wat gaan gebeur wanneer haar krag opraak.
“Ek kan nie eers self krag koop nie, omdat die metro sê my kragboks is geblokkeer totdat hierdie fooi betaal is,” het Du Plessis gesê.
Du Plessis, wat binnekort ‘n oogoperasie moet ondergaan, is bekommerd oor haar vrieskas wat vol vleis is en wat van dié vleis gaan word as haar krag afgesny word.
“Ek gaan moontlik vir ‘n geruime tyd weg wees en nou sit ek met dié gemors.”
Nog ‘n pensioenaris, Koekie van den Berg, het wel ‘n gedeelte van hierdie boete gaan betaal, maar sê in plaas dat die geld afgetrek is, het sy die volgende maand net ‘n groter rekening ontvang.
Nel is woedend oor die metro se onverskillige houding jeens hierdie bejaardes.
“Dit is blatante diefstal hierdie. Ek dink hulle maak staat op die feit dat hierdie bejaardes niks sal sê nie en net aanhou betaal. Waar moet hierdie mense R800 vandaan kry om ‘n belaglike eis van die metro te betaal?” het sy gesê.
Die metro was teen spertyd nie vir kommentaar beskikbaar nie.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Instagram en Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za om jou nuusflits gratis te ontvang.
