CrimeLocal newsNews

Verskeie bene in vrou se gesig gebreek met naaldwerkmasjien

'n Vrou is steeds in 'n kritieke toestand nadat sy en haar dogter in hul huis oorval en aangerand is. Die vrou se wangbeen, voorkop, kakebeen en neus is gebreek. Haar linkeroog is erg beskadig.

‘n Ma en haar dogter is verlede Vrydag gruwelik in hul huis in 14de Laan in Pretoria Moot aangerand.

Annette Heunis (56) en haar dogter Nadia (34) het Vrydagoggend tussen 01:00 en 02:00 gehoor hoe hul honde aanhoudend blaf. Hulle is na die voordeur om vas te stel wat skort.
Nadia se suster, Lizaan Mong, sê hulle het ‘n man by die voordeur sien staan.Hulle wou weet wat hy daardie tyd van die nag in hul tuin doen en hy het gesê hy is honger en op soek na kos.“Toe hulle hom wegwys, gryp hy ‘n tuinstoel en breek hulle voordeur oop,” vertel Mong.
Die boef het binnegestorm, ‘n naaldwerkmasjien op ‘n tafel gegryp en Annette daarmee deur die gesig geslaan.”My suster het probeer wegkom om die hulp te kry van hul tuinier, wat agter die huis bly. Toe sy hom nie kry nie, gryp sy ‘n bofbalkolf en dam die indringer by,” sê Mong.”Sy het hom ‘n paar keer geslaan en geskop, maar hy het die kolf uit haar hande geruk, haar teen die kop geslaan en bewusteloos gelaat.”

Net voordat Nadia geslaan is, kon sy die tuinier se aandag trek deur te skree.

“Die tuinier het toe van agter die huis af gehardloop gekom, rewolwer in hand, en waarskuwingskote geskiet.

“Dit was genoeg om die indringer in sy spore te laat omdraai. Hy het Nadia se selfoon gevat en gevlug. In sy haas het hy ‘n hardeskyf laat val.

“Die polisie het die hardeskyf opgetel en besef dit kom van ‘n huis af wat dié man vroeër die aand beroof het.”

Die polisie was binne twee minute op die toneel, met die ambulans kort op hulle hakke.

Mong, wie se man ook na die toneel is, sê die hele huis was met bloed besmeer.

“My ma en my suster is na Eugene Marais-hospitaal gebring en is steeds daar. My suster is besig om te herstel. Sy het gelukkig nie breinskade nie. Die dokters vermoed dat die man haar herhaaldelik teen die kop geslaan het. Sy het wel erge harsingskudding en sukkel om te slaap,” vertel Mong.

“Wanneer sy beter is, gaan sy by my intrek. My ma is steeds kritiek. Haar wangbeen, voorkop, kakebeen en neus is gebreek. Haar linkeroog is erg beskadig. Sy word binnekort na ’n ooginstituut geneem, maar dokters is steeds onseker of sy haar sig sal herwin.”

Mong sê die polisie het dossier geopen en ondersoek ’n poging tot moord.

Kaptein Colette Weilbach, woordvoerder vir die Moot-polisiekantoor sê enige iemand met inligting oor die saak het, kan Adjudant-offisier Louis Hoffman skakel op 012-353-5394.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button