Agt skote het op 27 Oktober 2009 die lente-aand-stilte voor die Dros in Moreletapark in die ooste van Pretoria versteur.
Theron Cilliers (30) het voor sy bakkie omgedraai toe hy voetstappe hoor – sy moordenaar, wat kort vantevore ‘n bier saam met hom gedrink het, het hom in die oë gekyk en toe geskiet. Vier koeëls het Cilliers in die rug getref. Drie in sy bors en een deur sy arm.
Paul van Zyl (toe 36) het doodluiters in sy motor geklim en gery. Cilliers het presies 70 treë gegee en toe voor die restaurantingang ineengestort, maar ‘n wakker lapswaaier was ooggetuie en was dit nie vir haar nie, sou Van Zyl nooit vasgetrek kon word nie.
Vyf jaar en vyf maande later het Van Zyl nou in die Noord-Gautengse Streekhof gestaan om gevonnis te word. Sy tassie langs hom – asof hy gereed was om sy oranje tronkpak, waaraan hy vir agt maande gewoond was, uit te trek.
Hy is in Julie verlede jaar skuldig bevind aan moord, maar hy het deurentyd volgehou dat hy uit selfverdediging opgetree het.
Hy het glo Cilliers se vuurwapen hoor klik, toe omgedraai en geskiet. “Agt skote?” het die hof aanhoudend gevra. “Selfverdediging?”
Maar die landdros het anders beslis; veertien jaar vir moord, sewe jaar vir die besit van onwettige ammunisie en sewe jaar vir die besit van ‘n onwettige vuurwapen wat hy samelopend moet uitdien.
Stoffel (60) en Elma Cilliers (56), Theron se ouers, het ook in die hof gesit. Vir die 57ste keer. Hulle het die afgelope paar jaar al 28 000 kilometer gery. Elke keer die lang pad tussen Carolina in Mpumalanga en Pretoria aangedurf.
Net die vorige week het hulle ter vonnisverswaring getuig. Van Zyl, wat uit ‘n gesiene Waterkloof-familie kom, het ook sy vriende nadergehark om ter vonnisversagting te getuig, soos professor Christoffel Martinus Breytenbach van die Universiteit van Pretoria (Tuks), wat een van Van Zyl se pa se vriende was.
“Theron was niemand nie. Niemand nie. Hy was nie ‘n bekende nie. Sy dood maak tog nie saak nie. Paul kan nog iets vir die samelewing beteken,” het Breytenbach getuig.
Elma was witwarm van woede. ‘n Vooraanstaande steunpilaar in die gemeenskap wat vir Theron as net nog ‘n Jan Niemand beskou. Vir sy familie en vriende was Theron iemand. ‘n Man wat liefgehad het. ‘n Man wat vasgeklou het aan die lewe. Wat besig was om ‘n steenkoolonderneming van die grond af te bring.
Twee ure na die uitspraak ontmoet Rekord vir Elma en Stoffel by ‘n restaurant in The Grove-winkelsentum.
“Ons hou die bokant blink. Ons gee voor dat alles reg is. Dat ons aangegaan het met ons lewens, maar daar is meer vrae as antwoorde. Die wie is nou gevonnis, maar die hoekom, die hoekom?” sê Elma.
Die egpaar het ‘n paar jaar gelede al vir oud-majoor-generaal Bushie Engelbrecht, nou ‘n privaatspeurder, genader om ondersoek in te stel na die rede vir Theron se moord. Hulle moes opdok om die polisie te help en ‘n sterk saak te bou.
“Die nadoodse ondersoek was nie op die dossier nie. Toe wou die hof die saak uitgooi. Petrus sou geloop het, maar Bushie het ingegryp,” sê Stoffel. “Een van sy ondersoekbeamptes, Carl Denner, het begin om leidrade op te volg. Soos dat Theron afgedreig is… toe is Carl in ‘n motorongeluk dood… Hy het teen ‘n hoë spoed gejaag. Carl was ‘n versigtige bestuurder…”
“Ons vermoed dit was ‘n kontrakmoord,” vertel Stoffel. Sy knobbelrige hand styf om die van Elma gevou. “Theron was besig met groot kontrakte in die steenkoolbedryf. Hy het glad nie vir Paul geken nie.”
Van Zyl was ‘n toevallige kennis wat Theron daardie noodlottige aand in die Dros ontmoet het. Niemand sal weet waaroor hulle gesels het nie, maar toe Theron ongeveer 22:30 daardie aand die restaurant verlaat, was Van Zyl agter hom aan.
Volgens ‘n ooggetuie het Van Zyl aan Theron geruk en pluk. Theron het net na sy bakkie geloop. Daar was nie verdere woorde nie.
Selfs toe Van Zyl, sowat twee weke gelede, ‘n brief aan Elma en Stoffel voorlees, het hy volgehou dat hy in selfverdediging opgetree het. Luidens die brief is hy “jammer dat hy nie stilgestaan het en gewag het dat Theron hom skiet nie.”
“Toe het ons die oproep gekry,” sê Stoffel. Enige ouer se grootste nagmerrie. “Hy was die dag voor sy dood by ons.”
Van Zyl is die dag na die moord in hegtenis geneem, maar is op R10 000 borgtog vrygelaat.
“Ek het twee weke voor sy dood gedroom dat Theron ‘n dwelmsindikaat oopgevlek het en toe doodgeskiet is,” vertel Elma.
“Theron was so ambisieus, nie eers sy gebrek (hy kon nie sy regterhand gebruik nie) het in sy pad gestaan nie,” voeg Stoffel by.
Die staat se saak is afgehandel. Die moordenaar is agter tralies. Maar Stoffel en Elma gaan nie rus voor hulle weet wat die waarheid is nie.
Elma en Stoffel gaan sit gereeld blomme op Theron se graf en dan huil hulle oor hul seun se onnodige dood.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za om jou nuusflits gratis te ontvang.



