EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Jy sit mos nou die spelpot mis

Rian van Heerden stel nuwe speletjiesprogram bekend.

Centurion se bekende gladdebek Rian van Heerden gaan weer sy verskyning op die kassie maak, maar die keer gaan hy dáárdie spelmonsters hard oor die vingers tik as hulle ‘n woord soos onmiddellik verkeerd spel.

“‘n Nuwe speletjiesprogram, Op die Spel, begin eersdaags op kykNET en Van Heerden, wat ‘n spelkoning is, gaan die program aanbied.

“Ek het nog altyd ‘n ding oor spelling gehad en Suid-Afrikaners wat nie kan spel nie,” het hy Vrydag gesê.

En kan Afrikaanse mense nie vrot spel nie. Kyk maar na enige inskrywing op sosiale media en jy sal taalgoggas soos jaamer (jammer), winters oggend (wintersoggend) en tipise (tipiese) kry.

Van Heerden meen mense is te lui om die korrekte spelling van ‘n woord op te soek en dat hulle nie meer lees nie.

Op die Spel is nie op ‘n spesifieke speletjieprogram gegrond nie. Die idee spruit uit spelkompetisies wat al hoe gewilder raak.

Voornemende deelnemers sal eers gekeur word. Hulle moet ‘n spel- en taaltoets op www.beterafrikaans.co.za aflê.

Daarna volg ‘n telefoniese toets voordat deelnemers gekeur word vir die verskillende episodes.

“Dit is soos die Noot-vir-Noot vir taal,” sê Van Heerden. “Jy moet jou storie (of taal) ken voordat jy aan dié program kan deelneem.”

Hy meen dit gaan ‘n lekker manier wees om nuwe Afrikaanse woorde te leer. “Daar is baie terme wat ons glad nie gebruik nie of ons gebruik dit verkeerd. Ek het self ‘n paar nuwe woorde en uitdrukkings geleer.:

Soos?

Juffertjie-in-die-groen ( Ja, dit is reg gespel).

“Dit beteken skemerkelkie,” sê Van Heerden. “Ek het dit nie geweet nie.”

Gerhard van Huyssteen, voorsitter van die Taalkommissie van die Suid-Arikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, is die beoordelaar.

“Daar is niks wat hy nie weet nie. Hy is ‘n wandelende woordeboek,” sê Van Heerden.

En wat beteken die idioom hond in die pot?

As jy wil uitvind kyk na Op die Spel wat op 14 Julie om 20:00 vir die eerste keer uitgesaai word.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button