CrimeLocal newsNews

Bekende sanger se huis geteiken deur boewe

Mathys Roets se huis in Eldoraigne besteel.

Die Afrikaanse sanger Mathys Roets is vroeg Saterdagoggend beroof.

Roets en sy vriendin Jané van Litsenborgh was by sy huis in Eldoraigne, Centurion, waar hy al die afgelope 16 jaar woon, toe die alarm 05:00 afgaan.

“Toe ons die alarm afsit hoor ons ’n effense geskarrel. ADT-sekuriteit bel toe en sê hulle is op pad,” sê Roets.

Roets-hulle het hulle eie veiligheid bo alles gestel en in ’n hysbak gewag terwyl die boewe vat wat hulle kon. Die hysbak loop tussen die motorhuis en die hoofslaapkamer.

“Dis nou wel nie die veiligste plek nie, maar dis die laaste plek waar hulle sal soek. Die hysbak kan halfpad stop, so ons het tussen die twee vloere sit en wag.”

Binne minute was ADT by Roets se huis en het onmiddellik die erf deursoek, maar die boewe het toe klaar gevlug met wat hulle in die hande kon kry. Roets sê sy TV, verskeie mikrofone en ’n iPad is gesteel.

Roets sê hy is geskok dat die boewe met die TV kon ontsnap. “Hulle het met ’n TV oor ’n 2m-hoë muur met ’n elektriese heining gespring. Ek weet nie hoe nie, maar hulle kon dit regkry,” sê hy.

Kyk hier na die video:

Roets sê hy wou nie die boewe konfronteer nie. “Ek het wel ’n windbuks, maar ek dink nie dit sou so lekker werk nie,” sê hy met ’n glimlag.

Roets se hond, Penny, ’n groot ou labrador, was ook glad nie lus om die diewe aan te vat nie. Dié hond was bang vir die geraas, en geniet dit baie meer om aandag te ontvang en toertjies te doen, soos om te sit en haar poot op te lig, as om boewe te takel, sê Roets.

Hoewel hy duisende rande se skade het en dit die eerste keer in 16 jaar is dat daar by sy huis ingebreek word, sê Roets hy is dankbaar dat hy, sy vriendin en Penny ongedeerd is.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button