Noorde van Pretoria onder water
Pretoria-Noord inwoners kla oor gebarste pype en lopende water in strate.
Corlia Kruger
Pype wat bars en water wat in strome in strate afvloei is ’n groot kommer en kopseer vir inwoners in Pretoria-Noord.
Ten spyte van onlangse waterbeperkings en Rand Water wat waarsku teen die oorgebruik en vermorsing van water, kla inwoners in die noorde van Pretoria oor liters water wat uit gebarste pype stroom.
’n Inwoner in Dorandia, wat verkies om anoniem te bly, vertel haar erf was byna toe onder water na ’n pyp naby haar woning gebars het.
“Ons het die gebarste pyp Woensdagoggend aangemeld, maar daar was aan ons gesê dat hulle (Tshwane-metro) aflyn is maar dat hulle ons op die dringende ‘skakellys’ sal plaas om die probleem op te volg,” vertel die inwoner.
Na ure, vertel sy, is haar erf byna verswelg en het die probleem ’n krisis geraak.
“Ek kan net dankie sê aan raadslid Dana Wannenburg wat opgedaag het en ’n paar oproepe gemaak het om vinniger mense uit te kry om die water te stop en hier skoon te maak.”
In Theresapark kla nog inwoners oor lekkende pype, veral in Suricatestraat waar sommige van die inwoners al self ingespring het om die vermorsing te keer en die lopende water begelei na grasperke in erwe.
“Dit is maar ’n selfgemaakte besproeiingstelsel wat sommige inwoners gemaak het,” vertel ’n Theresapark-inwoner.
Inwoners in Burgerstraat, Pretoria-Noord, sê gebarste pype en waterlekke grief hulle al maande.
“Ons as inwoners van Burgerstraat, tussen Rachel de Beer en Britsweg, is al keelvol vir die verouderde pype wat elke tweede dag bars,” het inwoner Annetjie Weber ontstoke gesê.
“Pype word herstel en ’n dag of twee later bars dit weer op presies dieselfde plek.”
Weber meen dat besighede in die straat, asook die kleuterskool waar sy werk, skade ly as gevolg van gereelde waterlekke.
“Soms sit inwoners so lank as twee dae sonder water. Erge skade is al veroorsaak aan die rylane en die straat is vol slote gegrawe soos werkers hier elke keer ’n pyp moet herstel,” sê Weber.
“Ons vra dat die metro die straat moet toemaak en pype vervang vanaf die Rachel de Beer- en Britsweg-kruising. Klagtes is al per e-pos na die metro en betrokke partye wat daarmee behulpsaam is deurgestuur, maar die probleem word nie opgelos nie.”
DA-raadslid, Dana Wannenburg sê ’n petisie sal opgetrek word en in November by die metro ingedien word, waarop inwoners kan eis vir dringende herstel van waterpype.
“Burgerstraat is veral ’n groot probleem omdat hier baie woonstelblokke is waar die aanvraag vir water meer is,” sê Wannenburg.
“Die infrastruktuur is tussen 45 en 65 jaar oud en die waterpype moet heeltemal vervang word. Die ou asbespype kan eenvoudig nie meer die druk hanteer nie en dit help nie om net gedeeltes te vervang wanneer daar ’n bars is nie.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos naeditorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

